Swiel voorste puntemaker in 2010

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie
Tim Swiel van Bishops. Foto: Peter Heeger, gallo images

As 'n rugbyspeler sy stelskopwerk 12 maande in die jaar oefen, kan jy seker verwag dat hy uiteindelik die voorste puntemaker in die geledere van Suid-Afrika se onder 19-spelers sal wees.

Timothy Gregory Swiel, die heelagter van Bishops se eerste span, was die enigste o.19 A-speler in die land wat vanjaar (grootliks danksy sy skopskoen) meer as 300 punte ingehark het - 304, om presies te wees. En dit is nog lank nie die laaste wat ons van hierdie man gaan hoor nie. Hy is vanjaar maar in graad  11.

'n Interessante storie is aan sy suksesvolle stelskopwerk verbonde. Tot begin vanjaar het "Timo" daagliks vanaf Constantia na die skool gependel. Maar toe rig hy 'n versoek aan sy ouers: hy wil in 'n koshuis op die skoolterrein bly, sodat hy elke dag sy stelskopwerk op die veld oorkant die koshuis kan oefen. Dit het gewis vrugte afgewerp.

Tim was nege jaar oud toe hy op die velde van die Valsbaai-klub van sy skoptalent bewus geword het. Hy het dié aangebore gawe algaande sonder noemenswaardige bystand ontwikkel, sonder om sy stelskopwerk op 'n beroemde speler s'n te baseer. Hy voeg tog by dat hy 'n groot bewondering vir die Engelse losskakel Jonny Wilkinson het.

Van losskakel gepraat: Dit is die posisie waarin hy verlede jaar nog vir Bishops se o.16 A-span (én die WP se o.16-span) diens gedoen het - maar sedert begin vanjaar is hy in sy gunsteling-posisie, heelagter, wat hy hoop om eendag vir die Springbokke te speel.

In die wintervakansie het hy die WP in die nr.15-trui in die nasionale Akademieweek in Vryheid verteenwoordig.

Haal hy nié die Springbokspan nie, kan Tim maklik probeer om vir die Engelse Rose te gaan speel, want hy is 17 jaar gelede in Engeland gebore, terwyl sy ouers met vakansie daar was. Dit laat hom kwalifiseer om te enige tyd vir Engeland gekies te word.

Tim kan nie stilsit nie. Einde verlede jaar het hy hom 'n ruk lank as 'n leerling by Dulwich College in Londen gaan inskryf en het as 'n lid van die Surrey-span die finale proefwedstryde vir die kies van Engeland se o.18-span gehaal. Maar hy kon nie verder deelneem nie, aangesien die skooljaar hier begin het.

Tim wil sy rugby ná skool aan die WP-rugbyinstituut in Stellenbosch voortsit. Wie weet wat die toekoms alles vir hom inhou.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar