Super-atletiek op Interhoër

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie
Foto: Marius Nortje

Twee junior atlete van die Hoërskool Kempton Park het Dinsdag tydens die Super-Interhoër hier op die Olympia Park-stadion laat wiel om Kempies die algehele wenner van Afdeling A te maak.

Op dié spogbyeenkoms, aangebied deur Rustenburg Hoër, het Helpmekaar Kollege van Johannesburg skoonskip gemaak in Afdeling B.

Tiaan Jacobs, Kempies se o.15-ster in die 800m, het 'n voltal van 1 200 punte op die ASA-tabel ingeoes met sy rekordtyd van 1:55.84, terwyl sy spanmaat Suné Jonker 1 068 punte verdien het met haar sege in die 1 500m vir o.14's (4:43.39).

Nelspruit Hoër het in sy eerste verskyning in Afdeling A die pap dik aangemaak en algeheel vierde geëindig, onder meer danksy kragman Frans Schutte se rekord in die gewigstoot vir seuns o.17. Dié IAAF-medaljewenner het die loodbol 19,64m ver laat trek vir 1 191 waardevolle punte.

'n Jong sensasie om dop te hou, is Kayla Gilbert van Dr. EG Jansen in Boksburg, wat vanjaar die rekords een vir een aftik. Kayla het die rekord in die verspring vir meisies o.17 met 22cm verbeter tot 'n briljante 6,07m. Daarby het sy die rekord in die 100m-hekkies tot 14.12 verbeter en 'n eerste plek in die 100m losgesnol.

Die manne van die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria het nie op hulle laat wag nie. Jandre Slabbert het 1 196 ASA-punte verdien met sy rekordpoging van 55,71m in die diskusgooi vir seuns o.15. Sy spanmaat Andries van der Merwe het die 110m-hekkies in 14.06 afgeblits en 1 078 punte ingeoes.

Janet Seeliger, o.15-veldatleet van die Afrikaans Hoër Meisies Pretoria is weer 'n keer as die junior victrix ludorum op 'n 2010-byeenkoms aangewys. Janet se beste prestasie was die 5,69m in die verspring, wat haar 1 080 punte in die sak gebring het.

Vir Monnas het Tato Makofolo in die 800m vir meisies o.16 uitgeblink. Haar tyd van 2:11.47 was 1 082 punte werd.

In Afdeling B het Izelle Neuhoff van die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark haar stempel behoorlik afgedruk in die wedlope vir meisies o.16. Die vinnige Valie het die 400m in 'n rekordtyd van 55.37 gewen en weer so gemaak in die 400m-hekkies. Sy het die rekord tot 61.65 verbeter en is aangewys as die senior victrix ludorum met 2 020 punte.

Zune du Plessis, 'n junior van die Hoërskool Jeugland in Kempton Park, het die 800m vir meisies o.14 in 2:17.23 gewen. Dit het Jeugies 'n welverdiende hupstoot gegee en Zune 1 089 ASA-punte ryker gemaak.

Quintin Jordaan van Helpies het 1 086 punte verdien in die verspring vir seuns o.14. Hy het 5,96m gehaal.

Ander uitblinkers in Afdeling B is:
Lihan Botha van Transvalia, 1 028 punte vir sy 12.53 in die 90m-hekkies vir seuns o.14;
Siyabonga Derison van Vorentoe, 1 010 punte vir sy 1:51.66 in die 800m vir seuns o.19;
Constant van Rooyen van Helpies, 994 punte vir sy 17,57m in die gewigstoot vir seuns o.17;
Natasha te Bearts van Jeugies, 968 punte vir haar 5,59m in die verspring vir meisies o.16; en
Stephani van Niekerk van Florida, 950 punte vir haar 5,13m in die verspring vir meisies o.14.

Top-toekennings in Afdeling A
Seniors
Victor ludorum: Frans Schutte (Nellies)
Victrix ludorum: Tato Makofolo (Monnas)
Juniors
Victor ludorum: Tiaan Jacobs (Kempies)
Victrix ludorum: Janet Seeliger (Affies Meisies)

Top-toekennings in Afdeling B
Seniors
Victor ludorum: Siyabonga Derison (Vories)
Victrix ludorum: Izelle Neuhoff (Valies)
Juniors
Victor ludorum: Thumisang Monnatlala (Vories)
Victrix ludorum: Zune du Plessis (Jeugies)

So lyk die finale puntestand:
Afdeling A
Meisies - 1. Kempton Park 410; 2. Monument 363; 3. Affies Meisies, Pretoria 353; 4. Noordheuwel 309; 5. Waterkloof 304; 6. Rustenburg 276; 7. Nelspruit 270; 8. Dr. EG Jansen 269.
Seuns - 1. Affies Seuns, Pretoria 453; 2. Waterkloof 367; 3. Monument 360; 4. Kempton Park 341; 5. Nelspruit 297; 6. Dr. EG Jansen 264; 7. Noordheuwel 247; 8. Rustenburg 208.
Algeheel - 1. Kempton Park 751; 2. Monument 723; 3. Waterkloof 671; 4. Nelspruit 567; 5. Noordheuwel 556; 6. Dr. EG Jansen 533; 7. Rustenburg 484.
Affies Seuns en Affies Meisies ding net in die seuns- en meisiesafdelings mee.

Afdeling B
Meisies - 1. Helpmekaar 387; 2. Transvalia 373; 3. Garsfontein 360; 4. Jeugland 350; 5. Zwartkop 317; 6. Driehoek 276; 7. Vorentoe 246; 8. Florida 230.
Seuns - 1. Helpmekaar 428; 2. Transvalia 357; 3. Zwartkop 330; 4. Jeugland 323; 5. Florida 290; 6. Garsfontein 283; 7. Vorentoe 265; 8. Driehoek 256.
Algeheel - 1. Helpmekaar 815; 2. Transvalia 730; 3. Jeugland 673; 4. Zwartkop 647; 5. Garsfontein 643; 6. Driehoek 532; 7.
Florida 520; 8. Vorentoe 511.

Check ook die awesome fotogalery van Marius Nortje uit.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar