Die ding wat my deesdae meer as enigiets anders irriteer, is BBM-broadcasts!
Dis goor as jy wag vir 'n boodskap, net om te sien die rooi liggie wat flikker, was om jou te laat weet daar het 'n broadcast-boodskap in jou inbox beland.
Vir dié van julle wat nie 'n BlackBerry het nie, 'n broadcast-boodskap is BB se weergawe van chain mail.
Daar is drie soorte broadcasts wat my mal maak:
1. "Aandag, alle BBMers, BlackBerry gaan al die kontakte op jou foon verwyder teen vanaand 23:00. As jy jou kontakte wil behou, moet jy jou BBM-profielfoto verander na 'n foto van jou hond en dan dié boodskap aanstuur. Groete, die CEO".
Of iets soos: "Aandag, alle BB-gebruikers. Jy moet dadelik 'n profile-foto oplaai van een van die volgende diere, anders gaan jou BB breek: 'n Suid-Siberiese gevegsmossie, 'n Kanadese keelkoggelmander of 'n Noord-Nigeriese bosotter. Groete. Die stigter van BlackBerry."
(Weird, my BB werk dan nog. . .)
2. Dié broadcast wat sê: "Dié is 'n toets om te kyk hoe sexy jy is! Stuur dit aan 15 mense wat jý dink is sexy en terug vir die persoon wat dit vir jou gestuur het:
"As jy een boodskap terugkry, is jy "hond-lelik"; as jy twee terugkry, is jy "net oukei"; as jy vier terugkry, is jy "mooi", en as jy meer as vyf terugkry, is jy "super sexy".
As jy dié boodskap nie teen 16:00 aanstuur nie, gaan daar 'n toon op jy voorkop begin groei en jy sal nooit weer 'n kêrel of meisie kry nie."
(Sowaar? Ek dink my voorkop lyk nog heel normaal, dankie.)
3.En dan dié een: "As jy dié boodskap na 15 mense aanstuur, sal die Here jou seën en as jy dit ignoreer, gaan jy nie in die hemel kom nie."
Ek weet nou nie van jou nie, maar ek dink nie dit is vir óns om te besluit nie.
Ek plak dus eerder 'n groot vet "ignoreer-plakker" oor BB-boodskappe soos dié (komaan, hou op om dit uit te dink en aan te stuur!).
Dis my laaste rubriek vir 2011!
Ek hoop jy het 'n geseënde Kersfees en 'n prettige, voorspoedige nuwe jaar, Jipper!
Maak nou dadelik afdrukke van dié rubriek en deel dit uit vir 10 mense.
Anders gaan al jou Kersgeskenke gesteel word. . .
Lizelle is een van JIP se JJ's. Sy is in gr. 11 aan die Hoërskool Middelburg.