Op my plattelandse tuisdorp is daar 'n groot aantal pittige karakters en aangesien my ma-hulle 'n populêre kroeg/restaurant het, kom ek in aanraking met almal van hulle. In die stedelike voorstede, waar ek die afgelope paar jaar woon, hoor jy nie gereeld stories oor sulke karakters nie, wat ‘n jammerte is, want dis hulle wat gewoonlik die inspirasie vir kontreikuns/-verhale is. Ek is bevoorreg genoeg om ‘n paar storiemense persoonlik te ken ...
Karakters soos Borsie, die oorgewig en baie vriendelike vragmotor-mechanic met die stoutste kinders ooit, en sy broer Bertie, wat soos Quasimodo lyk. Dan is daar oom Heinie, die onsuksesvolle boer, wie se vrou met 'n byl onder die bed slaap.
Oom Heinie sit een aand by die kroeg en drink tot drie uur en my ma se geduld raak op, "Heinie as jy nie nou huis to gaan nie, gaan jou vrou jou los!'' Hy vat die laaste sluk flou brandewyn en haal toe nog 'n R50-noot uit en sê, "Gooi maar nog een. Sy sal my nooit so gelukkig wil sien nie!'' ‘n Ou grappie, maar uit Oom Heinie se mond, kosbaar.
Een Vrydagmiddag loop my pa vir oom Heinie by 'n veiling raak en hulle begin gesels. My pa sien 'n klomp geroeste ysters en bougemors wat op 'n hoop lê, wat ook te koop is, en vra vir oom Heinie, "Wie bring sulke k*k na 'n veiling toe?" Waarop hy antwoord, "Dis my k*k daai, 'n man slaap nie op sy brood nie!" Kosbaar.
Een Saterdagaand kom eet Borsie en sy vrou, Melinda, die ywerige karaoke-sangeres, saam met hulle stout kinders, by die restaurant. Vroeër die middag was Borsie se vrou by Chris Naald (die bynaam "Naald'' is nie 'n verwysing na sy postuur of gewig nie ...) se eksvrou om tee te drink. Terwyl hulle in die kombuis gesit en gesels het oor wat se vuilgoed Chris Naald is, het die kinders buite gaan speel. Borsie se jongste laaitie, Cocktailborsie - 'n regte klein antichris wat altyd al die ander kinders se speelgoed breek - kry toe die tuinslang in die hande. Hy druk die tuinslang by Borsie se nuwe Nissan-sportmotor se ruit in en draai die kraan volstroom oop. Toe Borsie se vrou by die kar kom, dryf al die kruideniersware daarin rond. Die kar was basies heeltemal vol water getap. Die stoffering, radio, elektriese bedrading en die enjin se rekenaar was daarmee heen. Toe hulle die klein antichris konfronteer oor die gedoente antwoord hy, "Het bietjie pappa se kar gewas.''
Geen pakslae is uitgedeel nie. Borsie en sy vrou het later vertel hoe ougat Cocktailborsie die middag met die tuinslang was.
Oom Heinie luister met 'n halwe dronk oor en sê, "Nou sê ek niks meer nie.'' Kosbaar.