St. Andrew laat Irawa-kroon in Vrystaat bly

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Kovsiestreek-rugbykompetisie.

St. Andrew is die kampioen van die Irawa-liga van die Kovsiestreek-rugbykompetisie.

Saints het Hennenman 61-7 in die eindstryd van die liga op Shimlapark in die Rosestad verniel. Die wenspan was teen rustyd met die telling op 33-0 reeds stewig in die saal.

Saints se stut en kaptein, Matthew Lamont, het 'n driekuns aan drieë in die wedstryd behaal. Hy en sy broer, Frank, het voorlangs gesorg dat hul span die oorhand kry.

Saints se beste speler op die dag was egter sy skrumskakel, Christopher Rawson, wat Hennenman om die skrums en losgemale besig gehou het. Rawson het ook strafskoppe vinnig geneem op die regte tye en 'n hele paar goeie lopies ingekry.

Hy het met sy spel sy span op die voorvoet gehou en ook sake van agter die skrum gedikteer.

Agterlangs het die vleuel Tshepo Seakhoa en heelagter Kabelo Motshabi goeie vertonings gelewer. Seakhoa het sy vaart ten toon gestel met die twee drieë wat hy gaan druk het. Saints se eerste drie was seker een van sy mooistes.
Hul slot, Lamont, het van die afskop na Jonathan le Riche se tweede strafdoel soos 'n warm mes deur botter deur Hennenman se verdediging geglip. Hy het ver gehardloop voordat sy broer, Matthew, oorgeduik het.

Le Riche het weer 'n spul van sy span se punte met sy skopskoen aangeteken en 26 punte tot die oorwinning bygedra. Hy het al sewe sy span se drieë verdoel en vier strafdoele tussen die pale deurgejaag.

Vir Hennenman het Johan Blom (skrumskakel), André Bothma (agtsteman) en Justin Dinisio (vleuel) moedig probeer, en hulle kan trots op hul vertonings voel. Die span se heelagter en gewoonlik een van die staatmakers, Johan Smit, het egter sy span in die steek gelaat deur heelwat foute te begaan.

Smit is in die VKB-span wat volgende maand na Argentinië toer.
Die oorwinning deur Saints beteken dat nog geen span van buite die Vrystaat as kampioen van die Irawa-liga gekroon kon word nie.

Nog uitslae:
KOVSIE-KOMPETISIE:
Noord-Kaap 24 (19) - Drieë: Gerhard Roux, Zane le Roux, Cobus Cohn, Henco Olivier. Doelskoppe: Gihahn Cloete 2. Hentie Cilliers 3 (3) - Strafdoel: Ryno Venter.
St. Andrew 61 (33) - Drieë: Matthew Lamont 3, Tshepo Seakhoa 2, Kabelo Motshabi, Martin Mogaswa. Doelskoppe: Jonathan le Riche 7. Strafdoele: Le Riche 4. Hennenman 7 (0) - Drie: Vincent Mokeki. Doelskop: Michael Pienaar.
Sentraal o.15 10 (7) - Drie: Brandon Snyman. Doelskop: Tom Deetlefs. Strafdoel: Deetlefs. Noord-Kaap o.15 10 (3) - Drie: Willie van Aswegen. Doelskop: Machiel Brits. Strafdoel: Dimitrio Tieties.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar