Hoe ouer 'n mens word hoe meer bewus raak jy van ongemaklike brokkies spanning wat binne sosiale situaties kan gebeur.
'n Mens kan by voorbeeld baie entoesiasties en beskrywend vir iemand 'n storie of 'n grap vertel. En net voor die storie sy klimaks bereik, projekteer jy per ongeluk 'n klein druppeltjie spoeg in jou luisteraar se gesig. Die ergste is wanneer jy hom in die oog tref. As jy die een is wat die spoegie laat spat het, ruïneer dit die effek van die hele storie en jou en die luisteraar se verhouding vir die res van die aand.
Die luisteraar het in 'n oogwink van jou storie vergeet en fokus dan op jou spoeg in sy gesig. Walglik en onvanpas. Jy begin lomp verskonings maak en oorreageer heeltemal. Hy probeer die ongemaklikheid doodpraat, maak asof dit nie so erg is nie en dring daarop aan om die storie klaar te hoor. Jy hoop die laaste deel van die storie sal jou uit hierdie ongemaklikheid red.
Maar dit doen nie.
Jou klimaks word geprys met 'n halfhartige glimlag en 'n grillerige stilte. Jy word gebrandmerk as die oorywerige spoegmonster in jou luisteraar se agterkop vir die res van die aand. Veral as julle nie mekaar te goed ken nie.
As jy die ongelukkige luisteraar is in hierdie soort situasie, hang jou reaksie totaal af van die verhouding tussen jou en die verteller. As jy hom goed ken en van hom hou, is dit nie so erg nie. Jy vat maar die spoegie, maak asof dit nie gebeur het nie en hoop hy kom dit nie agter nie. Alles uit sosiale ordentlikheid uit. As jy die verteller verpes, sal jy 'n punt daarvan maak om vir hom en almal in die vertrek te laat weet dat hy nie sy spoeg in sy mond kan hou nie. En dien dit ook as verskoning om nie weer met hom te praat nie.
Sosiale ongemak kan 'n groot bron van vermaak wees, deels omdat dit iets is wat almal een of ander tyd ervaar. En ook omdat daar nie werklik 'n manier is om dit met waardigheid te hanteer nie. Dink maar aan die afgelope dekade se vlaag komedies wat presies oor hierdie tema handel, soos The Office en Extra`s.
Maar een ding is seker. Sodra jy jouself al in ongemaklike, of vernederende, sosiale situasies bevind het, het jy baie meer simpatie met ander wanneer dit met hulle gebeur. Of nie, dit hang mos maar af van jul verhouding.