Son, see en swempakkies

  • 75
    like dit
  • 19
    like dit nie
’n Skepping van die Colombiaanse modereeks Onda de Mar. Foto: Reuters

Die Desembervakansie is om die draai! Dit beteken jy droom dalk al van daardie nuwe bikini of kwyl oor cool board shorts in die sportwinkel. Clarissa Grobler het meer gaan uitvind oor die geskiedenis van swemklere.

Van baaibroek tot bikini

Nie so mooi nie
Glo dit of nie: Swembroeke is glo eers in die 18de eeu ontwerp om, wel, 'n bietjie toe te maak wat toegemaak moet word.
Eintlik moet 'n mens sê 'n bietjie baie, want swembroeke het uit bloomers en kouse bestaan, en het meer gelyk soos iets wat jy vandag na 'n kostuumpartytjie sou aantrek as iets waarmee jy in die water sou spring. Boonop het mans se swemklere soos lang onderklere gelyk, volgens wikipedia.

Strand toe gaan vir vroue in die 19de eeu het ook nie soos vet pret geklink nie. Jou swempakkie sou 'n knielengte-rokkie wees met 'n bedekking wat jou tot by die enkels toegemaak het.

Om jou 'n idee te gee van hoe preuts die tye was: In 1907 is die Australiese swemmer Annette Kellerman in hegtenis geneem vir onwelvoeglike ontbloting omdat sy 'n swembroek gedra het wat haar arms, bene en nek gewys het.
Wat ons tien teen een vandag sou laat omslaan van die lag, omdat die pakkie, gemeet aan vandag se standaarde, regtig nie uitlokkend is nie.

Is minder beter?
Mettertyd kon mense meer asemhaal in hul swemdrag, en moulose swemdrag wat darem knielengte of 'n bietjie korter was, het opgeduik. Die halslyne het ook laer ­geword.
In die jare dertig het swemklere vir vroue ook 'n bietjie mooier geword, en die ontwerpe het die vroulike figuur gevlei. Dit het ook 'n bietjie stywer gesit.
Toe kom die jare veertig en nuwe ontwerpe vir swembroeke.
Ontwerpe vir swemklere het al hoe meer beweeg na hoe ons dit vandag ken en nuwe materiale is gebruik.
Swemkepse was ook te sien - vroue het dit onder meer in die jare vyftig gedra om hul hare te beskerm.
Sedertdien het swembroeke natuurlik moderner, meer sexy en prettiger geword.
Winkels het deesdae ontwerpe vir elke smaak en lyf - so of jy hou van 'n vollyfswembroek, 'n bikini, board shorts of 'n speedo, sal jy dit in die winkel kry.

Bronne: inventors.about.com, fashion-era.com, wikipedia.org.


Bikini maak sy buiging
Duisende meisies oor die wêreld heen dra bikini's.
Die ontwerper van die bikini was 'n Fransman, Louis ­Réard.
Dié swemuitrusting het in 1946 sy buiging gemaak en is na die Bikini-ringeiland in die Stille Oseaan genoem.


Vanwaar daai ‘speedo'?
Noem die woord speedo en jy dink waarskynlik óf aan swemkompetisies óf 'n manswembroek wat, erm, eintlik net goed lyk aan jou lyf as jy taamlik hard geoefen het.
Die gewildheid van die Australiese vervaardiger Speedo het daartoe gelei dat ons deesdae van so 'n klein swembroek vir mans as 'n speedo praat.
Baie sportmanne dra dié styl broeke.
Maar, soos ons sê, ouens: Dra dié ene net as jy die lyf daarvoor het.


Wenke
As jy in Desember jou lyf goed genoeg vir 'n bikini of swembroek op die strand wil laat lyk, moet jy nou al daarvan werk maak. Onthou, jy hoef nie soos 'n model te lyk nie, maar goeie eetgewoontes en oefening is 'n moet.

Sonbruin lyf? Oppas vir te lang ure in die son of te veel sonbedsessies. Daar is baie verbruiningsrome beskikbaar - toets dit eers, sodat jy nie soos 'n lemoen lyk nie.
Onthou sonskerm. As jy reeds langs die swembad lê, moet jy jou vel beskerm. Kies 'n sonskerm met die regte SBF. Anders lyk jy dalk soos 'n tamatie op jou vakansie en moet jy heeltyd onder 'n sambreel lê.
Kies die regte swembroek vir jou lyf. Moenie 'n swembroek koop bloot omdat dit sexy of cool lyk nie, pas dit eers aan. Vat vir die koopsessie jou beste en eerlikste buddy saam, wat nie vir jou sal sê jy lyk hot en dan lyk jy eintlik sleg nie. Baie swembroeke vir vroue het deesdae mooi kettinkies en so. Juis daarom moet jy mooi seker maak dat as jy byvoorbeeld sit, dit nie teen jou rug druk of ongemaklik span nie.
As jy board shorts koop, maak ook seker dit sit ordentlik en nie te lospassend nie.


 

Gebruikers Kommentaar (1)


  • 19 months ago
    VERY COOL
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar