Die Absa KKNK vind van 2 tot 9 April 2011 plaas.
Die Absa KKNK in Oudtshoorn is reeds besig om sy vere reg te skud vir die 17de jaarlikse kunstefees wat van 2 tot 9 April 2011 gehou word.
Kunstenaars en produksiehuise kan nou reeds aansoek doen om deel te neem aan aanstaande jaar se fees.
Die aansoekvorms en programriglyne vir die 2011-fees is tans in beide Afrikaans en Engels op die fees se amptelike webblad beskikbaar by www.absakknk.co.za.
Die Absa KKNK verwelkom aansoeke in verskeie dissiplines, wat wissel van toneel en komedie tot kinderteater, dans, woordkuns, visuele kuns en musiekteater. Produksies met klassieke of kontemporêre musiek kan ook aansoek doen.
Daarenteen kan kunstenaars wat op die verskeidenheid musiekverhoë tydens die fees wil optree, nou reeds hul aansoeke indien. Buitelug-aanbiedings as deel van die fees se Oudtshoorn Oraloor-aanbod - wat vanjaar werke soos Grond, Betésda en Taraboemdery ingesluit het - is ook welkom om aansoek te doen. Op die koop toe is daar ruimte vir straatteater of kunstenaars wat wil deelneem aan die kleurryke Feesparade, wat vanjaar vir die heel eerste keer aangebied is.
Die Absa KKNK moedig vanjaar ook skrywers en dramaturge met nuwe tekste aan om hul werke in te skryf, selfs al het hulle dalk nie 'n vervaardiger, regisseurs en/of akteurs in gedagte nie. Die tekste sal steeds deur die Kunstekabinet oorweeg word en indien die Kunstekabinet hierdie tekste aanbeveel, sal die fees 'n vervaardiger en kreatiewe span in oor leg met die skrywer nader.
Die sluitingsdatum vir die 2011-aansoeke is 31 Julie 2010 - dit is 'n maand vroeër as verlede jaar se sluitingsdatum. Die rede hiervoor is om die beplanningsiklus te vervroeg sodat die program vroeër bekend gestel kan word. Die aansoeke vir die musiekverhoë sluit op 31 Augustus 2010.
Die sluitingsdatums word op die verskillende aansoekvorms aangedui. Aansoekvorms is ook beskikbaar deur 'n e-pos te stuur aan info@absakknk.co.za of deur die feeskantoor tydens kantoorure te skakel by 044 203 8600.