Een van my doendinge wat ek sedert my hoërskooljare steeds élke dag doen, is om soggens op te staan (wel, duh Carryn) en dan 34 sekondes lank na my gesig te staar.
Op soek na . . . dum-dum-duuum . . . puisies.
Daar was twee gunsteling-soorte wat daagliks hul opwagting op my gesig sou maak.
Die eerste soort was daardie arrogante spul wat jy nie kan sien nie, maar net met jou vingers kan voel. Jy weet hulle is daar. En hulle overstay gewoonlik hul welcome.
Die tweede was daardie vet, voorbarige vente wat jy kan sien (en ek verbeel my soms, selfs kon ruik). Dié soort het gewoonlik hulself tuisgemaak op 'n neus of op die voorkop.
Hul lifespan was nie lank ná die oomblik nadat hulle gewaar is nie, en hulle het 'n skielike, dog lelike, dood teen die spieël gesterf.
En dan het ek super rebels gevoel deur my suster se onderlaag aan die rooi kol te smeer wat as 'n stille getuienis van dié puisie gedien het.
Soos ek ouer geword het, het dimpelboude bygekom en grys hare is selfs ook al deur my besigtig.
Ongelukkig kan hierdie waarhede nie binne sekondes verbloem word nie. Ai, en dis al weer jy en jou spieël wat van hierdie geheime weet . . .
Dit mag dalk vreemd klink, maar dit is weens my dagboekinskrywings dat ek hierdie dinge onthou.
Ja, almal hou dalk nie van skryf nie, maar om jou gedagtes te laat gaan (soos ons maar almal doen) is nogals lekker, en dis verál lekker om dit later jare weer te lees en dit te kan herleef.
So een keer per jaar blaai ek deur ou dagboeke en lees oor ou vriendinne se skinner, of hoe ek voor 'n belangrike eksamen my dinges af sou paap, of hoe ek vir 'n jaar lank op dieselfde ou 'n crush gehad het sonder om ooit enigiets te sê, of watter groot aap in die klas kliphard op 10 Maart 2001 'n stink wind gelos het.
'n Dagboek laat jou eintlik toe om twee keer te lewe. En die beste van alles is dat jy werklik kan sien hoe jy elke jaar groei. Want, trust me, jy groei élke jaar.
'n Mens sien dit net nie maklik aan jouself raak nie.
'n Dagboek is amper soos 'n spieël. Dit is 'n weerkaatsing van jouself. Soms sien jy jou lelike puisies, soms sien jy jou pragtige glimlag. Maar jy kan altyd teruggaan en leer uit jou puisiedae hoe jy die volgende puisie in jou lewe gaan tackle.
En vandag is my gesig skoon!