As daar werklik één ding is waarvoor ek my ouers nie kan vergewe nie, is dit die feit dat ek 'n XY-chromosoom is, in plaas van 'n XX-chromosoom.
My naam, het ek met navorsing uitgevind, sou nou wel iets aaklig soos Casper gewees het (uitgespreek soos daai vuilbek-komediant, nie die vriendelike spook nie), en weet jy, ek is seker ek sou daarmee kon rondspeel en Caz kon word.
Maar nee. Toe kry Moeks en Dad 'n tweede dogtertjie. Twee troues om voor te betaal, en baie skuld by Foschini. My grootste issue met vrouwees is nie die feit dat ek nie kaalbolyf by 'n braai kan rondloop nie, maar eerder die skoene aan my voete.
Want, soos die meeste XY-chromosoomspesies, vrek ek oor 'n paar skoene.
Maar dis ook dié einste liefde wat my my vrouwees laat haat.
Dis skoene wat my om 02:00 op 'n Saterdagoggend met heimwee en lus (nie daai soort lus nie) na mans laat kyk. En laat wens om tog net gemáklik te kon wees in 'n paar stewels waar ek Moeder Aarde onder my voete kan voel. Die naweek was dit weer sulke tyd toe ons vriendinne die aand boude gaan wikkel het. My pienk hakkies is om my voete gegespe, tesame met die jeans en geleende top van Vriendin wat in my kas lêplek gevind het.
Twee uur later kón ek net nie meer asemhaal nie. Nie oor die hot barman wat my asem weggeslaan het nie, want, hy het. Eerder oor die verdomde hakkies.
Dit het gevoel soos selfmoord vir/op my arme voete. Die self-inflicted never-ending pyn. Die onnodige straf. Sit jy 'n dans-number uit, voel dit die pyn raak erger, besluit jy om aan te hou dans, klop dit in die holte van jou voet. Gaan jy badkamer toe om net 'n bietjie verligting te gaan soek deur jou skoene uit te trek, gaan daar vrae gestel word oor wát jy so lank in die badkamer soek, so dan los jy die verligting liefs. En as jy so die mans om die dansvloer aangluur, gemaklik in hul plat skoene, wens jy dan óók jy was 'n Adam!
Want húlle wil beslis nie in óns skoene wees nie . . .
Nou vra ek jou met trane in my navy blou oë, wáárom sit ons vroue onsself (en ons voete) deur die straf van hakkedra? Waarom dra máns nie ook hakkies nie?
Mans het tog skinny jeans begin dra. So ook vir manicures en pedicures en facials begin gaan. En mans het selfs ook cleavage begin wys (veral die ou mans met die silwer borshare wat so by hul check-hemde uitsteek).
Waarom moet ek as 'n vrou, hakkies dra ter wille van skoonheid?
Ek voel ek gaan een aand my stoute skoene aantrek en my skoene uittrek.