Ek sit in ‘n donker kamer met ‘n hoë dak en portrette van ou nors omies wat oor die afgelope een en ‘n halwe eeu oor ‘n paar honderd seuns met ‘n ystervuis regeer het.
Ek is besig om aansoek te doen vir een van die top-seunskole in Suid-Afrika en die grysman voor my kan net nie uitgepraat raak oor die uitstekende musiekdepartement nie - beste in die land - verseker hy my.
Toe kom ons by die volgende afdeling op die aansoekvorm: sport. Die koue sweet tap by my lyf af en die grysman raak heel opgewonde, want met my 2m lange lyf is hy seker dis die skool se nuwe rugbykaptein wat voor hom sit. Ek het in my laerskooldae al wat ‘n sport is probeer: krieket, rugby, hokkie en tennis, maar haal elke keer slegs die waterbottel-span. "Jy gaan seker rugby speel, seun?" Vra hy heel beleefd met so glimlag van opgewondenheid.
"Nee, meneer. Ek is nie juis die aggressiewe soort nie, maar het ingeskryf vir T-Tennis." Ék neem aan dis tegniese tennis, maar die grysman verstik toe aan sy eie spoeg.
"Wel, stel jy glad nie belang om rugby te speel nie? Waarvan hou jy dan?"
"Ek verkies dit eintlik om op Saterdae ballet te gaan kyk by die operahuis." Die grysman verstik aan nog spoeg, ek bestel nog koffie en teen dié tyd bestel die grysman suikerwater.
Hy vat ‘n groot sluk en sug: "Jy besef natuurlik dat jy ingeskryf het vir tafeltennis?"
En so het my hoërskoollewe begin: tafeltennis by ‘n rugbymal-skool. Ek is die middag huis toe en het ‘n klam waslappie op my voorkop gesit. Ek moet erken dat ek sommer op die eerste dag van skool myself van dié sport onttrek het. Toe ek hierdie nostalgiese oomblik ‘n paar jaar later met die grysman deel, het hy erken dat ‘n klam waslappie nie vir sy ontmoeting met my gewerk het nie, en sy vrou moes wit linne natmaak .
Dit was nie die laaste herinnering nie en ek onthou goed hoe ek in graad 8 ‘n "out of order" bordjie op een van die toiletdeure geplak het sodat net ek dit kon gebruik.
‘n Lewenservaring wat ongemaklik, onvanpas en heel onnodig is, is LO op skool. Ek het my nog altyd dood gegril vir sweterige seuns met kort blou PT-broekies wat in hulle boude vassit.
Met ‘n oud-weermagkorporaal word daar elke week rugby gespeel. Met my swaar lyf probeer ek maar ligtrap om my voete nie te vuil te maak nie en oor die afgelope paar jaar het ek al geleer om die volgende tegniek toe te pas: staan in die agterry heel op die punt. Sodra die bal in jou rigting kom, hardloop agter om in die teenoorgestelde rigting en skree net "Yes! Yes!". Só vermy jy heeltemal kontak met die bal, enige swetergie speler en die onderwyser dink jou geskreery is heel van pas en gee vir jou ‘n goeie punt vir probeerslag.
Dan is het ons ‘n bloedjonge, pragtige, blonde juffrou wat ontwerp gee. Dié is nogal vir jou ‘n sight, want haar vak gewildheid neem kwartaaliks toe onder al die seuns en só sit al die groot-geboude rugby ouens in ‘n naaldwerkklas besig om nuwe uitrustings te maak.
Maar tussen al hierdie mallighede het ek my plekkie gevind. Tydens rugby oefeninge, speel ek orrel, lees ‘n boek of gaan drink tee by die koshuisvader se vrou. Terwyl die seuns praat oor aspirasies van meisies, rugby kaptein-wees en die Stormers, droom ek oor heerlike disse, kore, Miemie Coertse en skerppuntskoene. En ek is gelukkig!