Ek het op die harde manier geleer. Die skinny jean is almal nie beskore nie. Eintlik net vir um - wag daarvoor - skinny mense.
Só het ek mos een oggend verwaand my kas oopgemaak en besluit vandag, boetie, is dié dag.
Ek het die een been versigtig ingesit en klaar soos moedeloos se kind gevoel.
Toe ek my weer kry, is ook been twee in, en sekondes daarna het 'n break dance-sessie gevolg.
Minute na dié onsuksesvolle poging het ek op my rug geduik, bene in die lug soos 'n vrou wat die lewe moet skenk aan 'n kind en voortgeploeter.
Die enigste rede vir my kanniedood-houding was dat ek weier om 'n "gewone broek" bedags aan te trek.
En my "gewone jean" is uitgesmyt omdat hy plek-plek stukkend, gaar tussen die bene (dankie, dik boude, vir jul bydrae) en sy pype swart was. (Karákter wat opgebou is, myns insiens.)
Ek is egter nie ál persoon wat so oor die stuk blou lap voel nie. Die mode-ontwerper Giorgio Armani sê die jean verteenwoordig die demokrasie in mode.
Hy's reg.
Daar is seker nie 'n man of vrou, wit of swart, vet of maer, wat nié 'n jean besit nie.
En tog verklap 'n jean ook soveel meer oor onsself as wat ons kan dink.
Dit kan 'n verhouding begin - "Het jy gesien hoe hot lyk sy ass in daai jean?" Of verbreek -"Ek het Tanya se nommer in sy broeksak gekry."
Dit kan ons ook vele oomblikke van vreugde bring. "Yes! 'n Verlore R20!"
Ek het, sover ek kon, mense aan die keuse van hul jeans gaan opsom. Besluit maar self waar jy inpas.
Jy kry die hanggat-jeans-soort waar die betrokke draer se hele check boxer uitsteek. Hul ma eindig gewoonlik hul sinne met " . . . en trek net jou broek op". Die look werk ook as mense met 'n "rol" stap.
Skinny jeans . Vir mans. Die uitgesoekte groepie, gewoonlik met 'n Black Label in die hand, het gewoonlik 'n kuif wat tot op hul neusgate hang. As hulle in 'n rock-band sing, soveel beter.
Skinny jeans . Vir vroue. Urg.
Baggy jeans . Die woord "belt" bestaan nie in dié groep se woordeskat nie. Alles is los.
Té stywe jeans. Dit lyk gewoonlik asof die draer van die kas af in die jean gespring het.
Stukkende jeans. Die jean weet nie of hy kom of gaan nie.
Jeans met blinkertjies en patrone. Slegs vir kinders onder 8 jaar, as jy my vra.
Jeans met 'n rek. Net vir swanger vroue. Asseblief.
Stel jou 'n oomblik 'n lewe sonder 'n jean voor.
Jy kan nie, nè?
Jeans is in ons genes .