Skielik is die regte wêreld hier...

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

Die onsekerheid lê soos 'n muur voor my. My kop is 'n warboel van gedagtes wat eindeloos rondmaal en glad nie antwoorde lewer nie. Alles wás so eenvoudig.

Wie sou ooit kon dink die jare op universiteit sou so vinnig verbygaan?

Ek onthou hoe ek as eerstejaar hier aangekom het; hoe ek 20 minute lank in Hatfield verdwaal het. Ek kon nie die regte straat kry nie en die verkeer was net te erg om die padkaart in die ry te bekyk. Alles tot nou toe was so seker en uitgewerk. Ek het gewéét wat besig was om met my lewe te gebeur. Nou is ek aan die einde van my universiteitsloopbaan. Ek moet die regte wêreld gaan face. Dit is so finaal. Daar is nie meer omdraaikans nie . . .

Dit is genoeg om enige gesonde 22-jarige 'n midlife crisis te laat strike. Dis die soort krisis wat baie moeilik is om te verduidelik, maar net ervaar kan word.
My jaar by Kampus-Beeld was een van my lekkerstes. Ek onthou toe ek my eerste vox pop (bl. 3) moes gaan doen. Ek was so onseker.

Die introvert in my (ons almal het 'n gesplete persoonlikheid) het studente geteiken wat alleen was. Soos die tyd aangegaan het, het vox pops deel van my weeklikse skedule geword en al hoe lekkerder. Waar dit eers minder as 'n uur sou vat om met nege studente te praat, het dit 'n ekspedisie geword van 'n uur en 'n half. Daar was net soveel wat ek en my nuwe vriende vir mekaar te sê gehad het.

Kampus-Beeld was iets wat ek wóú doen, al moes ek soms wild en wakker op die kampus rondhardloop. Niks kom by die gevoel van jou naam op die voorblad nie (al ken ander mense nie jou naam nie) en om laataande om te sit om spertye te haal het my baie geleer (al blý ek 'n uitsteller).

Die pers blommetjies het skielik kop uitgesteek. Die versengende hitte het skielik op ons neergedaal. So vinnig as wat 2010 gekom het, net so het hy gegaan. Vir my is dit dalk die einde van wonderlike jare by Tukkies, maar ek weet daar is 'n nuwe begin wat wag.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar