Jy slaap al op foliopapiere. Jy eet jou cornflakes langs 'n oop Biologieboek.
Jy het nagmerries oor wiskunde se "Nomsa".
Jy fantaseer oor hoe jy kaalhand jou lessenaar in stukke opbreek, 'n bonfire daarmee maak en dan laggend jou handboeke een vir een daarop verbrand.
Jy raak effens mal en onnatuurlik wit oor die tekort aan sonlig. Al wat gaan help, is matrieknaweek - en miskien 'n paar praktiese wenke om die eindeksamen te oorleef.
1. Tannies sê jy moet genoeg slaap inkry. Dit is egter miskien beter om glad nie te slaap nie. Die gansveerduvet en Klaas Vakie gaan jou nie die volgende oggend in jou skeinattoets help nie. Kennis wat jy haastig in die middernagtelike ure opdoen, gaan nuttiger wees as slaap in jou oë.
2. Die departement van onderwys se pamflette sê jy moet baie water drink en die inname van kafeïen vermy. Miskien moet jy juis soveel koffie drink as wat jul Nescafé-bottel toelaat. Ná jou middernagtelike sessie met die skeinatboeke gaan suiwer water jou nie wakker hou nie. Sterk koffie gaan meer behulpsaam wees.
3. Onderwysers sê jy moet ontspan en nie stres of angstig raak nie. Miskien moet jy stres. Jy het nie vir wiskunde geleer nie, jy weet hoe uitheems môre se vraestel gaan lyk. Raak dus angstig, want wanneer jy stres, produseer jou liggaam glo 'n "veg of vlug"-hormoon. Jy gaan nie uit die lokaal kan vlug nie, dus moet jy met die vraestel veg. Die resultaat sal beter wees as wanneer jy ontspan en passief na die parabool staar.
4. Party volwassenes sal jou aanraai om jou naweke vir opsommings- en hersieningsdoeleindes te benut. Miskien is dit net 'n klug wat spruit uit 'n bose sameswering van grootmense wat 'n revolusie of rebellie onder die jeug wil verhoed. Sit jou pen neer. Gaan 'n slag uit. Daar is 'n antieke Roemeinse slagspreuk wat lei: "Akademie moet by sosiaal aanpas. Sosiaal moet nie by akademie aanpas nie . . ."
5. Almal sal sê jy moet jou aandag op jou studies hou. Party leerders is geseën met die vermoë om te kan gorrel en dan punte daarvoor te kry. Party leerders het 'n sindroom of genetiese afwyking wat veroorsaak dat hul breine formules soos sponse absorbeer. Party leerders is maar net intelligent. Almal val egter nie onder "party leerders" nie.
Miskien moet jy maar leer.
Behalwe natuurlik nou as jy volgende jaar weer dieselfde foliopapier-nagrus, Biologie-ontbyt, 'n paar onmoontlike wiskundesomme en "eksamenwenke" wil geniet . . .