Leonardo DiCaprio vertolk een van die hoofrolle in Shutter Island.
Shutter Island
Riller - 4/5
Marshal Teddy Daniels (Leonardo DiCaprio) en Chuck Aule (Mark Ruffalo) word gestuur na die misterieuse Shutter-eiland.
Die eiland is een groot malhuis en onlangs het die onmoontlike gebeur: Een van die pasiënte het spoorloos verdwyn.
Teddy en Chuck word ingebring om die pasiënt op te spoor. Soos die twee dieper in die saak in grawe, ontgin hulle meer en meer donker geheime oor die eiland. Om elke hoek en draai word hulle pogings om die waarheid te vind, belemmer deur Dr. Cawley (Ben Kingsley) die eiland se hoofsielkundige.
Daniels is vasberade om lig te skyn op die donkerste geheime van die eiland selfs al kos dit sy eie geestesgesondheid.
Wanneer Hollywood malligheid aanraak dan is die kans groot dat jy redelik verward gaan wees tot die einde. Gelukkig is Shutter Island een van daai flieks wat jou heel subtiel inlok en voor jy dit weet is jy kniediep in 'n storie wat weier om jou maklike antwoorde te gee.
Jy voel later net so paranoïes soos Daniels en weet nie wie of wat om te glo nie. Dis 'n doolhof van illusies, half-waarhede en spanning ingerol in 'n mengsel van goeie draaiboek en skitterende toneelspel.
Shutter Island bewys weereens dat regisseur Martin Scorsese so 'n ding of twee weet van flieks maak. Tot die einde is jy vasgeboei aan die skerm.