’n Blink sporttoekoms wag op Shaun Nieuwenhuyzen. Foto: verskaf
Shaun Nieuwenhuyzen, 'n gr. 12-leerder aan die Hoër Tegniese Skool (HTS) Welkom, is 'n sportman in murg en been.
Reeds van sy laerskooldae was Shaun 'n kranige krieketspeler. Van 2000 tot 2005 is hy gekies vir onder meer die Goudveldse en die Vrystaatse krieketspanne.
In 2006 het hy hom as 'n gr. 8-leerder aan die HTS Welkom ingeskryf. Sy hoërskoolloopbaan is gekenmerk deur talle hoogtepunte in atletiek, rugby en krieket. Vanjaar was egter sy beste jaar.
Sy vertonings in spiesgooi het hom 'n plek in die Vrystaat-atletiekspan besorg.
Hy het nog elke jaar die skool se spiesgooirekords verbeter, en gevolglik staan die o.14-, o.15-, o.16-, o.17- en o.18-spiesgooirekord agter sy naam.
Sy sterk punt, wat vanjaar ook sy hoogtepunt is, is krieket. Hy speel van gr. 8 af vir die skool se eerste krieketspan en is die afgelope vier jaar die kaptein. Vroeër is hy vir die Vrystaat-Platteland se o.15-krieketspan gekies.
Hy het ook die Vrystaat-Platteland se o.17-krieketspan sowel as die Vrystaatse o.17 A-span verteenwoordig.
Shaun was 'n lid van die Vrystaatse krieketspan wat vroeër vanjaar in Grahamstad gespeel het, waar hy as die beste bouler van die toernooi aangewys is.
'n Besonderse hoogtepunt vir hom was toe hy vir die Suid-Afrikaanse gekombineerde o.19-krieketspan gekies is. En toe hy as vanjaar se beste o.17-krieketspeler in die Vrystaat aangewys is.
Sy rugbyloopbaan aan die HTS het by die o.14 A-span begin. Hy het as onderkaptein die o.14's leiding help gee en die daaropvolgende jaar as onderkaptein vir die o.15 A-span uitgedraf.
Shaun speel van sy gr. 10-jaar af vir die HTS se eerste rugbyspan. In sy gr. 10- en gr. 11-jaar het hy ook vir die Rovers-rugbyklub gespeel.
Vanjaar is hy vir die Griffons se o.19-rugbyspan gekies en het hy sy suksesvolle skolerugbyloopbaan afgesluit deur 'n kontrak met die Haaie te onderteken.
Van volgende jaar af gaan hy in Empangeni woon en deel wees van die Zoeloeland-rugbyakademie. Dit is dus nie verbasend nie dat hy die afgelope drie jaar as die HTS Welkom se sportman van die jaar aangewys is.