Seunshokkiespan kry wind van voor

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

Die Vrystaat se o.16-seunshokkiespanne wat verlede week in 'n tussenprovinsiale hokkietoernooi op Grey se astro-baan in Bloemfontein gespeel het, het die wind erg van voor gekry.

Die Suid-Vrystaat (SVS) B-span kon slegs een wedstryd wen, het twee gelykop-uitslae afgedwing en was in twee wedstryde aan die verloorkant. SVS se C-span het vyf wedstryde verloor en kon slegs vir Noord-Vrystaat in die toernooi ore aansit.

Gepraat van Noord-Vrystaat (NVS) - hulle het in al hul wedstryde lelik bloedneus gekry en die naaste wat hulle aan 'n oorwinning gekom het, was hul verloorwedstryd teen die SVS C-span, waar hulle in elk geval met 0-2 op hul neuse gekyk het.

Die SVS B-span het in sy wedstryd teen Oos-Gauteng (C) sy beste vertoning opgedis en die manne van anderkant die Vaalrivier met 3-0 verslaan. Mpho Tsoane het die eerste doel vir die Blikore aangeteken - dit ná slegs twee minute se spel.

Die Suid-Vrystaters (B) was van meet af vuurwarm en het ná slegs agt minute se spel hul tweede doel aangeteken, toe Edrich Fourie die bal in die Gautengers se doelhok ingeklits het.

Nie drie minute later nie het Casey Hendriks in die Oos-Gautengse doelhok gaan kuier om dit 3-0 te maak. Laasgenoemde was ook die eindtelling.

SFS (B) het toe teen die spanne van die Northern Blues (0-2) en die Suidwestelike Distrikte (B) (0-1) vasgeval, maar teen onderskeidelik Namibië (1-1) en die Suid-Gautengse D-span (4 - 4) gelykop gespeel.

Met die SVS se C-span het dinge maar beroerd gegaan. Hulle het teen Oos-Gauteng B (0-1), Suid-Gauteng C (0-3), WP Zebras (0-2), en Noordwes (0-2) verloor. Noord-Vrystaat het self lelik pak gekry teen Oos-Gauteng B (0-6), Suid-Gauteng C (0-5), WP Zebras (0-5) en Noordwes (0-3).

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar