"Semi-soet" is perfekte fliek vir 'n Vrydagaand

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie

Semi-soet
Romantiese komedie


Met Anel Alexander, Nico Panagio, Louw Venter, Diaan Lawrenson, Paul du Toit, Sandra Vaughn en ander.


Regie: Joshua Rous

Semi-soet is net reg: Nie te stroperig of te laf nie; altyd net soos jy dit wil hê.

Van dié genre het 'n fliekvlooi sekere verwagtinge wat Hollywood ongelukkig gevorm het.

Dit moet romanties én snaaks wees; die mense moet aantreklik wees; die plekke interessant en modern; en daar moet 'n geloofwaardige aantrekkingskrag tussen die hoofkarakters wees.

As dit nie so is nie voel die kyker behoorlik gefnuik.

Semi-soet bied dit als, maar met 'n effense kinkel en boonop in Afrikaans. Daar was dekades laas 'n romantiese komedie in Afrikaans. En toe was dit nie naastenby so "hups" soos dié een nie.

Die humor is tipies Afrikaans; die konteks en ervarings eietyds; en 'n mens voel deurgaans vertroud met wat op die skerm gebeur.

Die vervaardigers Anel en James Alexander, asook die regisseur ­Joshua Rous, pak die genre aan of hulle al jare onderleg is daarin.

Die gees is speels en snaaks en op die einde sommer behoorlik, hartsmeltend romanties.

Dit het hierdie fliekvlooi, wat veel eerder na westerns en boksflieks kyk, se hart heeltemal laat vermurwe.

Die aksie wissel blitsig van die haaitenk-bestaan in korporatiewe Johannesburg na die lomerige soelheid van die Bolandse wynlande.

Nici (Alexander), 'n suksesvolle bemarker, probeer die maatskappy waarvoor sy werk van ondergang red deur 'n besonder winsgewende kontrak met 'n Bolandse wynplaas te beding.

Tog het die wynboer sekere voorwaardes om familiewaardes. ­Nici is 'n vasberade alleenloper en moet inderhaas  'n "verloofde" optower.

Sal sy betyds die jakkals wat maatskappye vir eie gewin torpedo kan uitoorlê om haar maatskappy te red?

Die gebruiklike kat-en-muis-liefdespel kan uitmergelend raak; daarom is die rolle van die potensiële paartjie se beste vriende van uiterste belang.

Dít is nou die ouens wat 'n bietjie gesonde verstand behou en die arme drommels in die regte rigting stuur.
Louw Venter as Hertjie en Sandra Vaughn se Karla is perfek geplaas.
Vaughn, 'n knap klugaktrise, is kostelik en Venter se onbeholpe Hertjie 'n plesier.

Dit is Anel Alexander en Nico Panagio wat as perfekte dramatiese pasmaats die prent se sterstof verskaf: Hulle is in voeling met mekaar en hul komiese tydsberekening perfek.

Die verhaal raak wel dun in die wynlande, veral gedurende die ­oestrappery en die vreemde kompetisie. Tog vergewe mens dit gou.

Semi-soet is 'n vermaaklike fliek; net die regte keuse vir 'n Vrydagaand.

Ouderdomsperk: OL,T. Tydsduur: 107 minute.


Soortgelyk: How to Lose a Guy in 10 Days.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar