Ek het 'n kleintjie dood aan die manier waarop ons mense label wat ons nie ken nie. Dink net, ons praat van koeke en emo-kids...
Maar weet jy ooit wat emo beteken? Emo, soos ons dit ken, is kort vir emosioneel.
Iemand wat emo is, dra glo hul emosies op hul mou of aan hul swart skinny jeans.
Is dit nie maar net toevallig dat Sannie 'n voorliefde het vir swart nie? Dis glad nie te sê sy vermy alle sosiale kontak en skryf gedigte oor die einde van die wêreld nie.
Labelling - die euwel van ons generasie. Ja, ons almal is skuldig hieraan. Die oomblik wat jy iemand ontmoet, probeer jy hom label en wanneer jy nie kan nie, raak jy skoon ontsteld. Jy gaan soek die persoon op Facebook, lees inligting oor hom en kyk sy foto's deur.
Dan plak ons 'n identiteitsplakker op hom en ons gaan slaap houtgerus. Pateties!
Die label kan wees...nerd, jock of drama-freak, noem maar op.
As jy eers ge-label is, is dit vir jou moeilik om mense se persepsies oor jou te verander. As jy 'n ou is wat 'n drama-freak is, word daar van jou verwag om stywe hempies aan te trek. En bewaar jou siel as jy nie van die jongste mode-neigings weet nie! Vir 'n drama-freak om aan sport deel te neem, is heeltemal taboe. Gewoonlik kom hierdie label met 'n prys op die persoon se sosiale rangorde, byvoorbeeld:"Op 'n skaal van een tot tien plaas ek Sannie op 'n minus vyf". Verkeerd.
Min weet ons Sannie se draadjies word môre afgehaal en dat Lady Gaga haar niggie is. Maar Lady Gaga is ook gagga? Ek is jammer, jy ken haar tien teen een óók nie.
Jip, labelling kan heeltemal verkeerd wees. Dink bietjie hoeveel keer het jy nie per ongeluk 'n "koel" persoon in dieselfde kamp as die nerds gejaag nie?
Wat maak dit saak? Die status quo is in elk geval binnekort iets van die verlede. As jy deel is van dié wat sê hoërskool eindig nooit nie, moet jy weer dink.
Ek dink daar steek waarheid in die teorie dat die nerds die wêreld gaan oorneem. Dit gaan die bleeksiele wees wat met supermodelle by Star Wars-partytjies opdaag.
Dink twee keer voordat jy iemand label, veral daai emo-meisie - jy kan dalk eendag vir haar werk.