SA junior span hoogs omstrede

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Rikenette Steenkamp.

Skokkend!
Dit is die enigste manier om die wyse te beskryf waarop Atletiek Suid-Afrika (ASA) te werk gegaan het om die span te kies wat van 20 Julie in Kanada aan die junior-wêreldbyeenkoms deelneem.

Blykbaar het die keurders en ­Richard Stander, die administratiewe hoof van ASA, vergeet hulle werk met kinders.
Stander het gesê dat daar geen "passasiers" na die Wêreldbyeenkoms gestuur gaan word nie.

Daarom het hy van die atlete wat reeds op die Suid-Afrikaanse juniorbyeenkoms in April gekwalifiseer het, verwag om in Junie vir 'n tweede keer te kwalifiseer.

Byeenkomste swak beplan
Die probleem is dat die meeste van die Junie-byeenkomste chaoties was.
In baie nommers het daar net een of twee atlete deelgeneem. Vir 'n atleet om te kwalifiseer, moet daar minstens drie atlete deelneem.

Dit het beteken die organiseerders moes inderhaas planne maak. Atlete is links en regs opgekommandeer om sommer net saam weg te spring.
Van dié atlete het glo net enkele meters gehardloop voordat hulle gestop het, maar die organiseerders was tevrede omdat drie atlete deelgeneem het.

Op van die byeenkomste moes meisies teen seuns deelneem en soms is daar nie eers windlesing-metings geneem nie. Op een byeenkoms het 'n atleet sommer twee kanse gekry om te probeer kwalifiseer.

'n Atleet van Port Elizabeth het glo spesiaal na Stellenbosch gereis om daar te probeer kwalifiseer. Toe sy by die byeenkoms opdaag, moes sy uitvind die enigste atleet teen wie sy gaan deelneem, is 'n sewekamp-atleet wat 20
sekondes stadiger as sy hardloop.

Die Oos-Kaapse atleet het derhalwe nie gekwalifiseer nie.

Groot name weggelaat
Wat ouers en afrigters die meeste omkrap, is die dubbele standaarde wat gebruik is om die finale span te kies.
ASA se gebrek aan kommunikasie met die atlete is ook as 'n groot struikelblok uitgewys.

Atlete wat nie in Junie weer deelgeneem het soos wat ASA verwag het nie, of glad nie eens weer gekwalifiseer het nie, is vir die span gekies.
Dít terwyl twee Suid-Afrikaanse junior kampioene, Rynardt van Rensburg (800 m) en Shaun van Wyk (400 m-hekkies), wat wel deelgeneem het, weggelaat is.

Van Wyk en Van Rensburg se groot fout was dat hulle nie in hul betrokke nommers deelgeneem het nie. Van Rensburg het aan die 400 m en 1 500 m deelgeneem, terwyl Van Wyk aan die 200 m en 400 m deelgeneem het.

Toe Van Rensburg agterkom dat hy skynbaar 'n fout gemaak het, het hy ASA gekontak en gevra wat hom nou te doen staan. Daar is aan hom gesê dat hy 'n 600 m-tydtoets moes aflê en dat indien sy tyd vinnig genoeg is, hy vir die span oorweeg sou word.

Van Rensburg het die tydtoets in 1 minuut en 19 sekondes afgenael, wat beteken dat hy in staat is om 'n tyd van 1:48 minute in die 800 m te hardloop. Hy het dus eintlik al 'n tweede keer gekwalifiseer, maar is steeds nie gekies nie.
Van Wyk en Van Rensburg se afrigters het aangedui dat albei atlete so ontnugter met atletiek is dat hulle dit oorweeg om voortaan eerder maar rugby te speel.

G'n plek vir Rikenette
Rikenette Steenkamp, die Suid-Afrikaanse senior, junior en skole-hekkieskampioen, wat ook vroeër vanjaar in JIP verskyn het, is die ander skokkende weglating. Sy het gedurende die plaaslike seisoen ses keer vir die wêreldbyeenkoms gekwalifiseer.
Tog is sy volgens ASA nie goed genoeg om aan die wêreldbyeenkoms deel te neem nie.

Gebruikers Kommentaar (8)

  • Annoniem
    22 months ago
    Dit lyk my die mense wat so kla is die ouers van die atlete wat nie die span gehaal het nie. Dit maak mos net sin dat ASA seker maak sy atlete is opgewasse vir die taak by Worlds - kan mos tog nie atlete stuur wat nie op vorm is nie, en die wat aan ander items gaan deelneem het kan net hulle self blameer dat hulle nie gekies is nie, en ook was Shawn duidelik nie op vorm nie. Hou asb ook net in gedagte dat dit nou winter by ons in SA is en dit is nie maklik om 'n hekkie item in die winter te hardloop as mens nie behoorlik opgewarm is nie - en agv laat begin is dit die rede hoekom die atleet by Noordheuwel 2 keer kon hardloop, maar al is daar so baie wat daaroor nou kla, het hy weer bewys by Potch 2 weke later dat hy in die span hoort toe hy weer gekwalifiseer het. Die atlete wat nou so kla kon glad nie bewys dat hulle op vorm was in Junie nie. Die span is reeds in Kanada en hulle gees is baie goed ten spyte van baie terugslae en kom ons wens net almal sterkte toe en staan agter ons span.
  • OdT
    22 months ago
    Ons gun vir Werner sy kwalifiseering maar hy't twee kanse op al die byeenkomste gehad om te kwalifiseer. Ons hoop hy hardloop 'n medalje vir SA maar ongelukkig het al die ander atlete ook koud gekry. Die verskil is dat daar ander atlete was wat reeds gekwalifiseer het in April by die proewe. Hoekom moes atlete op SA's gekwalifiseer het as hulle gedurende die venster tydperk kon gekwalifiseer het. As daar na die statistieke gekyk word, is daar atlete in die span wat nooit op SA's of gedurende die venster tydperk gekwlifiseer het maar wel in die span ingesluit is. Mnr Stander se atlete van die Boland wat ook nie gekwalifiseer het nie, is in die span ingesluit. Mnr Stander en sy travante moet verduidelik hoe het hulle besluit wie ry en wie bly. Persoonlik dink ek Mnr Stander en sy travante is 'n klomp idiote wat niks weet van die bevordering van atletiek in ons land. Die arme kinders!!!!
  • Manus
    22 months ago
    Dit is belaglik dat Rikenette Steenkamp nie gekies het nie, sy is 'n ongelooflike atleet met baie talent!
  • Annoniem
    22 months ago
    Los nou asb die storie uit. Die atlete in die span verdien elke liewe een hulle plek en indien iemand ontevrede is met die span moet hulle dit direk met die keurders opneem en nie op die atlete uithaal nie. Almal het direk na SA's geweet daar is 'n venster periode in Junie waar almal weer moes bewys hulle is op vorm en die wat nie op SA gekwalifiseer het nie, kon toe ook bewys hulle hoort in die span. Die mense wat nou so kla moet dalk net meer probeer uitvind het wat van hulle verwag word soos baie ander atlete gedoen het.

  • 22 months ago
    Die byeenkoms het 11:00 begin met die item by Noordheuwel en die elektroniese tyd het eers 12:00 opgedaag van Pretoria en daarom is die wedloop oorgehardloop wat eers toe na 12:00 plaasgevind het anders sou die kwalifisering nie erken kon word nie.
Bladsy 1 van 2
<< Vorige | Volgende >>
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar