Rye, rybewys en ‘red tape’

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie

Ek het so 'n paar dae ná my 17de verjaardag my eerste ervaring van red tape of burokrasie gehad. Soos die meeste sewentienjariges het ek gebrand om my leerlingrybewys te kry.


Maar wat 'n mission was dit nie:


04:00. . .


Toe my wekker die Vrydagoggend om vieruur - in die skoolvakansie - afgaan, het ek maar opgesukkel om met my flessie koffie en 'n koekie in 'n kampstoeltjie voor die munisipale kantoor te gaan sit.


Dit sou die eerste dag van amper-padvryheid wees.


Die gebruik by ons dorp se munisipale kantoor is die volgende: As jy nie eerste in die tou is, of voor 06:00 daar staan met jou neus teen die koue, natgedoude hek nie, is dit nou maar jammer. Jy gaan nie dié dag 'n afspraak vir jou leerlingrybewys kry nie.


04:30. . .


Die mammies met hul pienk krullers en die pappies met hul deurgeloopte wolpantoffels kom laai slaap-slaap hul kinders af en soos dit wetsgehoorsame landsburgers betaam, gaan staan ons ordelik in 'n ry en sien met verwagting uit na die owerhede om op te daag.


05:00. . .


Die oggendskof-werkers wat verby stap, glimlag en knik die kop met 'n simpatieke uitdrukking wat duidelik sê:


"Ag shame, hulle weet nie wat vir hulle voorlê nie."


06:05. . .


Daar in die verte kom 'n man aangestap met 'n uniform aan met 'n blink ster op sy bors. Dis iemand wat lyk asof hy weet wat hy doen.


Die 50 of meer mense in die lang ry begin hul stoeltjies haastig opslaan en wegpak.


06:07. . .


Joke's on us! Die man is 'n veiligheidswag wat vinnig 'n draai gaan loop het. Ons voel natuurlik baie dom en gaan staan uit verleentheid op die sypaadjie. Die son skyn darem effens.


07:30. . . 


'n Taxi laai nog 'n klomp mense af wat ook in die ry val.
Ons kry hulle vreeslik jammer, want vandag sal hulle nie híér regkom nie.


Daar is al mense aan die anderkant van die palissade-hek, wat lyk of hulle teepartytjie hou.


Maar ons wag maar. En ons grappies en stories raak op.


08:07. . .


Drie stewige vroue drentel deur die hek en samel almal se identiteitsdokumente in. Ons word aangesê om aan die ander kant van die terrein by 'n ander hek te gaan staan.


Ons kom gelukkig eerste daar. Ons name sal dus eerste uitgelees word?


Toe nie. Die ouens wat vier uur ná ons daar opgedaag het, kry dié voorreg.


In dié stadium kon nie eens die droogste grappies die dag red nie.


08:30. . .


Toe kom die vorms wat ons moet invul. Maar daar's nie penne in sig nie. Dit word toe maar 'n oor enweer gelenery van penne. Almal is teen dié tyd pelle en vul sommer die vorms so staan-staan teen mekaar se rûe in.


Want behalwe vir die teerpad en die boemelaar wat langs ons op sy maag lê en slaap, is daar geen horisontale oppervlak beskikbaar nie.


09:46. . .


Die son is nou al behoorlik uit en ons staan nog so 'n uur in nóg 'n ry, terwyl dit teetyd is vir die munisipale kantoor se personeel.


Mettertyd word ons oë getoets en word ons na die soveelste ry gestuur. . . great.


11:52. . .


Uiteindelik het ek 'n afspraak vir 1 April gekry. (Dalk was dit alles deel van 'n Aprilgrap?) En ek belowe die agt uur se toustanery was beslis my inspirasie om hard te leer. Dié proses wil ek nie sommer herhaal nie. Dalk is dit waarom ons dorp se inwoners die pad­reëls so getrou nakom?



  • Lizelle Pistorius is 'n JIP-joernalis (JJ) en is in gr. 11 aan die Hoërskool Middelburg in Mpumalanga. Sy hét toe haar learners op 1 April gekry.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar