Krieket is maklik. Slaan net die bal. Sokker is ook verstaanbaar. Skop net die bal. Maar rúgby? Jy't omtrent 'n meestersgraad in rugby nodig om dié sport te verstaan.
Dit is nou Wêreldbekertyd en ek is seker daar is 'n paar mense wat, nes ek, géén benul oor die sport het nie. Ek het onlangs by my vriend Die Generaal gaan aanklop. Al ooit gewonder wie daardie 15 mannetjies op die veld is?
Leer by hom en word wys:
Nommers 1 en 3 is die stutte. Dit is frisserige vente, want hulle moet die ander span se frisserige vente agtertoe druk.
Nommer 2 is 'n haker, want hy moet die bal in die skrum haak ingooi in die lynstane.
Nommers 4 en 5 is slotte. Hulle is lank, want hulle moet die bal in die lynstaan vang. Nommer 4 is gewoonlik 'n bad-ass, soos Bakkies Botha. En nommer 5 is maerder en organise die lynstaan.
Nommers 6, 7, en 8 is losvoorspelers. Nommer 6 is 'n oopkantflank. Hy moet heeltyd na die bal toe speel en dit steel. Nommer 7 is 'n toekantflank en hardloop meer met die bal.
Nommer 8 - 'n agtsteman - is so 'n kombinasie van die twee en speel 'n belangrike rol in verdediging.
Nommer 9 is 'n skrumskakel. Hy is die ou wat die bal by die skrums ingooi en die rucks en goed skoonmaak.
Nommer 10 is die losskakel. As hulle in die moeilikheid is, moet hy die bal ver uitskop, en op die aanval moet hy die bal goed pass.
Nommer 12 is die binnesenter. Hy moet vir die ouens aan sy buitekant gaps maak om aan te val.
Nommer 13 is buitesenter. Hy moet gaps kan slaan, vinnig wees en ook goed kan pass vir die vleuels.
Nommers 11 en 14 is die vleuels. Hulle moet vinnig wees en baie drieë druk.
Nommer 15 is die heelagter. Want dit is waar hy staan.
Raait, nou moet iemand nog net vir my verduidelik wat 'n skrum is.