Ek was al so baie by die KKNK, ek verdien 'n groot vet KKNK tattoo op my skouer wat dit beaam.
Hierdie jaar was my 15de een. Ek het ongeveer tien shows gespeel en seker vyf gellen Jagermeister saam met hordes vreemde mense gedrink.
Al verskil elke jaar se fees drasties van die vorige een is daar party goed wat nooit verander nie. 'n Mens sien elke jaar daai een stereotipiese feesgesin wat in die besige stalletjiestraat loop en vreet.
Pa het 'n cowboy hoed op wat versier is met pienk volstruisvere. Die res van sy uitrusting is 'n RSG "Jou ma se stasie" t-hemp, kortbroek en groen Crocs. Ma het 'n "Fokkof, ek het genoeg vriende" t-hemp aan en 'n rubber RSG visor keppie op. Beide van hulle het 'n Rapport, Die Burger of Huisgenoot geskenksakkie in die een hand en 'n groteske vetkoek in die ander hand.
Voor ma en pa hardloop hul twee stout seuntjies met taai handjies wat met kleurvolle plastiek speelgoed disco-swaarde baklei terwyl hulle draairoomys eet. Een of ander tyd sal een van hulle begin huil. Die een laaitie het 'n "Pappa se bulletjie" hemp aan en op die ander laaitie se hemp staan "My pa is groter as jou pa". Agter hulle loop die pre-tiener dogter en Mixit met kort swartnaels en 'n aKing t-hemp. Sy skaam haar dood.
Daar is niks fout met hierdie soort families nie, hulle is net ywerige feesgangers op vakansie. Maar in godsnaam, sit net en eet asseblief!
Daar is baie gratis sitplekke, tafels en verhoë om by te sit. Ek wil nie sien hoe jy loop en jou kinders skel terwyl jy jou kerriemince en roomys herkou nie. Ons is immers al in daai fase van ons evolusie waar ons die ritueel van ‘eet' gekultiveer het. Ons hoef nie meer soos diere te loop en vreet nie. En al moet jou nou loop en vreet, koop iets wat nie so mors soos 'n vetkoek of draairoomys nie.
Koop dan maar biltong.