Roland Albertson: Vars, akoestiese surf-rock

  • 3
    like dit
  • 0
    like dit nie
Roland Albertson.

Gehoor van Roland Albertson? Die musiek van dié plaaslike musikant is om al die regte redes op JIP se radar - hy is ook onlangs aangewys as die beste manlike kunstenaar by die sewende jaarlikse International Acoustic Music Awards. Clarissa Grobler het met hom gesels.


Vars, akoestiese surf-rock. Dit is hoe Roland Albertson sy musiek beskryf. En dit is ook hoe dit klink. Kraakvars musiek wat boekdele spreek van ervaring en 'n nommerpas-aanvoeling vir hedendaagse musiek.

"Sou ek dit in 'n genre moet sit, sou ek ook gesê het akoestiese rock-pop. Ek dink die musiek het nogal verskeidenheid, dit kan van laid back akoestiese kitaarklanke tot alternatiewe rock beweeg," sê Roland.

Sy betrokkenheid by musiek het reeds vroeg in sy lewe begin en hy het ook musiek oorsee beoefen in Londen, waar hy saam met 'n band opgetree het.
"Ek dink dis beslis 'n goeie idee om ook oorsee te gig," sê Roland, wat ses jaar in die buiteland deurgebring het.
"Daar is soveel musiek daar en so 'n hoë professionele vlak dat jy jou standaard moet lig in dié speelveld."

Dié musikant het hom verlede jaar vir die aanlyn-musiekkompetisie Global Moguls ingeskryf en het in die top-tien geëindig.
Hy het ook onlangs die prys vir die beste manlike kunstenaar by die sewende jaarlikse In­ter­na­tion­al Acoustic Music Awards gewen.

Roland fokus tans veral op die bemarking van sy musiek en om 'n band saam te stel.
"Ek sal graag wil hê ons moet ons in Johannesburg of Kaapstad vestig. Ek is tans in Johannesburg, maar sal graag in Kaapstad wil wees.
"Dit het 'n wonderlike atmosfeer en voel vir my soos 'n groot musiekstad."

Roland het al 'n album, Legends of the Sun, uitgereik en van sy musiek is op die webwerf www.­jusforthemusic.­com te hoor. Daar kan jy, terloops, van sy
musiek pasella aflaai as jy 'n fan van die blad word.
"Ek is tans in die posisie dat ek my musiek heeltyds kan beoefen. Toe ek in Londen was, het ek 'n spesiale ooreenkoms met my baas gehad om vier uit vyf dae te werk.
"Ek spits my sedert September heeltyds op musiek toe en doen ook IT-werk vir my pa se maatskappy."

Roland se musiek kry deesdae selfs oorsee blootstelling, tot so ver as Rusland.
"Ek het eenkeer te doen gekry met 'n cool fan van Rusland wat gedink het ek is 'n massive artist - hy het my ge-google en toe snitte van die justforthemusic-webwerf afgelaai," vertel hy.


Meer oor Roland
Hy het vir 'n graad in inligtingstegnologie aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer.
Hy het voorheen om werk by 'n ski-oord in Vail in die Amerikaanse deelstaat Colorado aansoek gedoen.
Hy het aan The Guitar Institute of London gestudeer.
Van die plekke waar Roland en sy band oorsee opgetree het, sluit die Half Moon in Putney en The
Troubadour in Londen in.
Vir sy self-opgeneemde en selfvervaardigde album Legends of the Sun het hy al die instrumente en sang behartig, en sy fotografie is vir die omslag gebruik.
Die adres vir sy YouTube-kanaal is www.youtube.com/rolthemuso. Jy sal sy Twitter-blad by www.­twitter.­com/­rolthemuso vind. Lees ook meer op Facebook.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar