Dit is nie net druggies en wynvlieë wat hulp nodig het nie. Ons samelewing kort meer soorte terapie as dié vir tiener-boepies en swartgesig-depressielyers.
Dink nou maar aan die weird mense wat op Jukebox vir mekaar liefdesboodskappe stuur. Wie gee om hoe lief Sarel vir sy Bettie Boe is? (Behalwe Bettie, natuurlik . . .) Hierdie mense kort hulp. Ons aarde kort hulp. Mense wat nie 'n gesprek aan die gang kan hou nie, kort losmond die meeste hulp.
Maar hoe sal die arme siele wat met die stilte stry ooit leer? Dit is nie asof daar 'n kursus is om hulle te help nie. Dink daaraan: Jy vra die matrikulant wat hy van plan is om volgende jaar te doen. En hy skryf tjoepstil, skaars leesbaar, op 'n klein papiertjie: Leer gesels . . . dan medies studeer.
Ek wonder of so 'n mens ooit keuring sal kry.
As al die siele daarbuite maar net weet hoe maklik dit is om die woorde te laat rol. Gestel maar jy ontmoet iemand wat jy van geen kant af ken nie. Hy lyk soos die hoofspeler in die rolprent Unknown, maar dit kán nie hy wees nie . . . Dit gebeur dat julle twee om die een of ander onverklaarbare rede langs mekaar sit.
Moenie sweet en stres nie, want al hoe meer mense dra Power Balance-bandjies en hy is een van hulle. As daar 'n ongemaklike stilte van die buitenste hemelruim af neerdaal, vra hom wat hy van die bandjies dink; of dit werk, al dan nie. Probleem opgelos - sweetvry.
Nog 'n opsie is om 'n lysie besprekingspunte by te hou. Jou grimeerkissie lyk dalk soos 'n spieëltjie, maar as jy dit oopklap om jou neus te poleer is daar 'n elle lange lysie topics. (Werk net die lysie gereeld by.) En onthou: Mense gee nie so baie om stories uit jou kinderdae - soos hoe jy jou knieë nerf-af geval het - nie.
Nou kom die no-no's . . . eendag, lank gelede, voor Japan se tsoenami en aardverhitting, het die een of ander druggie die weer vir 'n gespreksonderwerp aanbeveel.
Dit maak nie saak of SABC2 se nuwe weervoorspeller wil word nie - jy práát nie oor die weer nie. Almal kan voel dit is warm, sien dit is bewolk, hoor dit hael.
Dalk sal die opgeleide, ingeligte individue wat eendag die matrikulant se gesprekskursus gaan aanbied, weet wat die wetenskaplike rede is waarom alle mense nie aan gesprekke (kan) deelneem nie.
Maar tot dan moet jy die wenke volg, want tensy jy 'n takbok is, kort jy 'n ware mens om mee te praat. Twee mense. Twee monde. 'n Simbiotiese saamleef-verhouding - daar waar die geselskap net kan voortleef as altwee saamwerk.
As jy eendag 'n rehab-kliniek met die naam "AlduTalkative" sien, weet dan - dit is die samekoms van mý neseier en jóú kans om in die wêreld van geselskap saam te leef . . . - Aldo is 'n leerling van die Hoërskool Langenhoven in Riversdal en is 'n JJ.