Die hele feeskomitee het genadeloos begin reëlings tref. Sommer so stil-stil agter in die ekonomieklas.
Dit is glo van erge belang, want sien, aan die einde van die jaar is die berugte geleentheid: ‘‘die matrieknaweek''. Die tyd wanneer matrieks op allerhande maniere hul vryheid bevestig.
'n Naweek van sosiale verpligtinge. En blykbaar gaan my liewe vriendinne van die naweek 'n behoorlike geleentheid maak. "Go big or go home," word opgewonde deur een van hulle opgemerk.
Hulle krabbel name op foliopapiere en skimp al klaar by weerlose ouers. Die hooforganiseerder het die afgelope vakansie selfs die stranddorp gaan verken - planne word ernstig beraam.
Sy rapporteer nou hier agter in die klas: "Ons moet opskud, as ons nie nóú dinge organise nie, sal ons moet kamp." Ek besef seuns sal so 'n voorstel met breë growwe manlikheid aangryp. Hulle is biologies ingestel vir die rowwe wildernis en hulle is nie van 'n vollengte-spieël afhanklik nie.
Die vroulike geslag is egter anders. Hierdie opsie gaan nie net ongemaklik wees nie, maar ek sien al moordtonele voor die enigste lopende warmwaterkraan.
Vir 'n groep meisies (waarvan party dit noodsaaklik ag om hul hare daagliks te straighten) is kamp 'n krisis.
Die hele matrieknaweek het eintlik 'n krisis geword, wat nou in die klas in 'n glad-nie-meer-so-stil-debat-nie ontaard het.
Die werkboeke word toegemaak, hierdie is nou real life "beperkte hulpbronne, vraag en aanbod".
Kamp opslaan is nie al probleem nie, sonder iemand met 'n wettige gesertifiseerde rybewys, of lopende kar, is ons vervoer redelik non-existing.
"Mevrou die organiseerder" stel ewe voor dat ek met my poegie hulle op 'n waentjie moet lift, gemaklik oor die Du Toitskloofpas. "Mooi so Jana, dit klink nou na 'n realistiese oplossing," sê ek terwyl ek op die swartbord probeer konsentreer.
Die entoesiasme word egter nie gedemp nie.
"As jou poegie nie werk nie, kan ons darem altyd my gholfkarretjie inspan", dink sy ernstig hardop en byt haar pen.
Klink asof ons 'n tweede Groot Trek gaan aanpak . . . Klomp vroue en "kinders", met obskure vervoervoorwerpe, volgelaai met 'n toksak vir elke dag. 'n Toksak per dag per persoon, op pad na die wildernis, oor die berg!
Ek sug hardop. Die feeskomitee beskuldig my van pessimisme, onder meer. Ek kyk af en gaan voort met my lastige huiswerk.
Ek onthou: Ek moet voor die feestelikheid eers matriek deurkom.
Dit is dit.