Daar is deesdae omtrent met elke toets wat die Springbok-rugbyspan speel, die een of ander rekord wat geëwenaar of oortref word.
So het Percy Montgomery net nou die dag die eerste Bok geword wat 100 toetspette in sy kas het.
John Smit is al om soveel redes die suksesvolste nasionale kaptein dat waarskynlik nie eens hý met al sy rekords tred hou nie.
Al hierdie mylpale dui op draers van die Groen-en-Goud wat al lank genoeg deel van dié rugbygemeenskap is dat geskiedskrywers nie anders kan as om van hulle kennis te neem nie.
Dieselfde geld vir die kweekskole van rugbyhelde - instansies soos die Paul Roos Gimnasium (PRG) op Stellenbosch. Hy is 'n hanetreetjie weg daarvan om die eerste skool in die land te word van wie 50 oudleerders Springbokke geword het.
Toe die skrumskakel van die Blou Bulle, Francois Hougaard in die huidige Springbok-toergroep van 37 spelers opgeneem is, het hy Springbok nommer 807 geword en terselfdertyd PRG se 49ste.
Hoewel 'n paar van die oudleerders elders gematrikuleer het, het almal minstens 'n wyle die maroen baadjie van die eertydse Hoër Jongens Skool van Stellenbosch (HJS) - later die PRG - gedra.
Hierdie lys word sedert 1891 opgestel. Die eerste Suid-Afrikaanse span wat oorsee getoer het en as die "Springbokken" bekend gestaan het, was die een van 1906 wat deur die einste Paul Roos aangevoer is.
Roos was 'n oudleerder van die HJS, later onderwyser daar en mettertyd die rektor (skoolhoof) - vandaar die skool se naam waaronder hy vandag bekend staan.
Die groot vraag is egter wie PRG se 50ste Springbok gaan word.
Hennie Bekker, 'n oud-Springbok en pa van die Springbok-slot Andries, meen daar is drie huidige Paul Roosers wat om dié prestasie kan meeding: Craig Barry (17, heelagter), Steven Kitshoff (17, loskopstut) en Rick Schroeder (18, skrumskakel).
Maar wat dink jy?
Paul Roos Gimnasium se Springbokke
Arthur Nicholas de Kock (1891), Jacob Stephanus (Japie) Louw (1891), James Alexander (Jim) McKendrick (1891), Robert (Bob) Shand, Paul Johannes de Waal (1896), Japie Krige (1896), Bob Loubser (1896), Pieter Albertus Ryno Otto (PO) Nel (1903), Paul Johannes Roos (1903), Koei Brink (1906), Henry John (Pinkie) Daneel (1906), Boy de Villiers (1906), Freddie Luyt (1910), Dick Luyt (1910), Koot Reynecke (1910), Gideon Daniël Roos (1910), Wakkie Krige (1912), John Douglas Luyt (1912), Tom van Vuuren (1912), Nic du Plessis (1921), Theuns Kruger (1921), Charlé Meyer (1921), Mannetjies Michau (1921), Phil Mostert (1921), Tokkie Scholtz (1921), Jackie Tindall (1921), Attie van Heerder (1921), PK Albertyn (1924), Nico Bosman (1924), Daunce Devine (1924), Kenny Starke (1924), George Murray Daneel (1928), Manus de Jongh (1928), AF du Toit (1928), PK Morkel (1928), Boet Prinsloo (1928), Ferdie Bergh (1931), George Lionell van Reenen (1937), Ballie Wahl (1949), Tjol Lategan (1949), Jannie Engelbrecht (1960), Gertjie Brynard (1965), Hempies du Toit (1980), Cabous van der Westhuizen (1994), Justin Swart (1996), Cobus Visagie (1999), Andries Bekker (2008), Schalk Brits (2008), Francois Hougaard (2009, Springbok nr. 807, PRG #49).