Paradoksale, boeiende strewe na ewige jeug

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Die aantreklike jong Dorian Gray besef veels te laat wat werklik belangrik is in die lewe.

Dorian Gray
Drama

Met: Ben Barnes, Colin Firth, Caroline Goodall . Regie: Oliver Parker.

J uis dit in die lewe wat waar de het, is verganklik en  weerloos.
Dít besef die aantreklike, jong Dorian Gray heeltemal te laat.

Oscar Wilde het die roman oor die aantreklike dog naïewe Gray, wat sy siel aan die duiwel verkoop in ruil vir ewige jeug, in 1891 gepen. Dit was 'n blootlê van Victoriaanse Engeland se rykmansklas wat van een partytjie na die ander gefladder het.

In dié hoë sosiale kringe koester niemand juis deugde of illusies nie.
Die Britse regisseur Oliver Parker skets 'n veelkantige prentjie van Victoriaanse Engeland. Gray flits en flerrie van donker strate met somber skaduwees en rokerige straatlampe na keurige en imposante sitkamers en van daar na besige kafees en teaters.

Ons beleef van wilde orgies met liggame verstrengel tot klavieruitvoerings waar algar sedig op 'n ry sit. Ons ontmoet eers 'n onskuldige, wydoog Gray, maar word ook reeds in die openingstonele 'n lendesteek tot in die murg gegee.

Dié jongeling se kosbare siel gaan so verword dat daar net wurms en maaiers van oorbly.
Parker is nou al 'n ou hand met Wilde. Sy An Ideal Husband en The Importance of Being Earnest was uitstekende flieks, so ook sy weergawe van Shakespeare se Othello.

Die flieks is teksgetrou en met visuele impak, noukeurige inkleding en suiwer vertolkings aanmekaargesit. Sy rolprente, ook Dorian Gray, is voorwaar liefdestake en 'n ode aan die rolprentkuns wat dit voorafgegaan het.

'n Mens kan nie namens die dooies praat nie, maar vermoedelik sou Wilde én Alfred Hitchcock hier tot in hul kleintoontjies lekkerkry. Die fliek se rilleroomblikke voel kompleet na Hitchcock, veral die jaagtoneel in ou moltreinstasies. Jy kan nie tussen mense en skaduwees onderskei nie; die asems jaag en fluit.

Wilde se woorde is geëer en pas gemaklik in die karakters se monde danksy Toby Finlay, wat die draaiboek verwerk het. Ben Barnes is 'n Dorian Gray vir wie jy voel. Jy bekyk sy eskapades met weersin en tog het jy empatie, danksy Barnes se skitter-spel.

Die man wat hom inwy en rig op sy verderflike pad, lord Henry Wotton, is 'n Colin Firth wat ons nie ken nie.
Hy is harteloos en het die lis van 'n adder, tog sal jy vir hom ook 'n traan wegpink.

Dorian Gray is 'n malse heksesabbat van boosheid en intrige.


Tog is dit die menslike strewe na onverganklikheid en suiwer liefde wat jou bybly.

Ouderdomsperk: 16TNSD. Tydsduur: 12 minute.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar