"Nee!" Dis jou ma se duidelike antwoord wanneer jy haar vra of jy na die partytjie van die jaar mag gaan.
"Hoekom nie ma? Daar gaan nooit weer so 'n geleentheid wees nie ma! Asseblief," smeek jy.
"Jy gaan nie na daai partytjie toe nie en klaar." En met net een kyk weet jy jy moet nou ophou, maar jy besluit tog om na jou kamer toe te storm, die deur so hard toe te klap dat jy hoor hoe jou bure se akkerboom met 'n kraakgeluid omval.
Wilde partytjies. Dit is nou vir jou 'n dubbelsinnige woord! Vir jou ouers: 'n Euwel, en glad nie iets wat jy nodig het in jou lewe nie. Daar is net drank, sigarette en allerhande slegte goed.
Vir ons: Die emergency exit ons enigste stukkie sosiale uitkom kans. En ons klou so vas daaraan dat ons net nie sonder ons weeklikse kuier- Saterdag aande kan klaar kom nie.
Of dit nou wild is of nie.
Jou ouers se mening oor partytjies sal nooit verander nie, want "in hulle tyd was daar nie sulke goed nie en kyk hoe goed het hulle uitgedraai''.
Ek dink daar is baie tieners wat met my sal saamstem as ek sê dat ouers regtig oorreageer oor hierdie kwessie.
Ja, daar is meestal slegte goed betrokke by partytjies, maar ouers is veronderstel om hul kinders genoeg te vertrou om te weet dat hulle nie sal deelneem aan die verkeerde aktiwiteite nie.
Ek het dit nou die dag besef terwyl ek en my vriendin besig was om reg te maak vir 'n partytjie. Haar ma het in die kamer ingekom en gesê sy wil met ons praat.
Ons het gedink dit gaan nou weer 'n tradisionele preek wees, maar toe vertel sy vir ons van die SMS wat sy so pas van 'n ‘bekommerde ouer' ontvang het.
In die SMS het die ouer gesê dat sy gehoor het ons gaan na die partytjie toe en sy sal ons aanraai om dit eerder te los, want sy as ouer weet wat als deesdae by partytjies aangaan.
Dis al.
Nie 'n naam of enigiets nie, en toe ons probeer terugbel wou sy nie antwoord nie. As die persoon regtig goed hiermee bedoel het moes sy gesê het wie sy was. Al wat ons nou weet is dat sy ernstige trust issues het.
My vriendin se ma het ons laat gaan, want sy het ons vertrou en raai wat?
Ons lewe nog en ons is presies dieselfde mense wat ons was voor die partytjie.
Vir al die ouers wat hiermee sukkel: Kalmeer! Pa, maak los jou das en lees die koerant. Ma, kry 'n romantiese fliek en 'n boks sjokolade en tieners, hou aan party!