Reeds met die aankoms van die Drommedaris in 1652 het die Christelike kerk ‘n belangrike rol in die lewens van die VOC gespeel.
Vandag, meer as 36 dekades later is Suid-Afrika ryk aan die aantal kerke wat ons besit. In party kerke dra hulle togas, party het nog ‘n orrel en van die nuwes het sommer diskoballe.
Een van die eerste dinge wat ek op ‘n nuwe dorpie gewaar, is die pragtige kerke. Kerkgeboue interesseer my só dat ek gereeld die St. George's katedraal in Kaapstad besoek. Hiér prikkel die tradisies my so dat ek al drie begrafnisse bygewoon het van mense wie ek nie voorreg gehad het om te ontmoet nie. Ek gaan verken dan die stoorkamer waar die ou koortogas gebêre word, gebruik nagmaal by kerslig, en besoek die toga-winkel om die draai waar ek navraag doen oor ‘n orrelis toga wat ietwat soos die pous s'n moet lyk en ‘n lang sleep wat by die gallery afhang soos ‘n gordyn met allerhande toings van groen satyn.
Ek het verlede jaar vir ‘n diens by ‘n Baptiste kerk die gemeente begelei en my vriend Robert het klavier gespeel. Robert-hulle se van was CLOETE, maar toe hulle van Bellville af Rondebosch toe trek, verander dit sommer na Cloetie. In my spieëltjie sien ek net die geflits van ‘n kamera soos Robert se ma, auntie Pauline met ‘n tiervel-jas, foto's tydens die diens neem. Toe die pastoor die opmerking maak dat twee Rondebosch-seuns vandag die lofprysing waarneem, hoor ek vir Pauline wat hand in die lug steek en sê: "Amen!"
Gedurende my drie jaar as orrelis in verskeie kerke, het ek al vreemde gedaantes teëgekom. En toe wonder ek nou die aand: Wat as ek al die vreemdes by die verskillende kerke uithaal en in een kerk plaas? Só sou ‘n tipiese diens verloop:
Ek speel orrel met my organiese sokkies van Woolworths en my nuut-aangeskafde orrelskoene met ‘n hak en ‘n punt. Mevrou dominee sukkel-sukkel deur die deur met haar lyf. Sy bak altyd melktert vir elke geleentheid, maar ek dink vir elk een wat sy maak, eet sy sommer drie.
Toe dit tyd raak vir die voorspel om te begin, staan ek op en beweeg orrel se kant toe. Oom Jan en tannie Miems sit reeds vroegoggend hier en het sommer saam met die koster ingekom. Hulle bekyk my van kop tot tone en die oë bly op my skoene gevestig. Oom Jan mompel iets onder sy asem en tannie Miens begin hardop vir die toekoms van die land en die jeug te bid.
Die diakens en ouderlinge stap in en so ook die dominee wat vandag sommer met ‘n kortmou-hemp en ‘n das sonder ‘n baadjie preek. Tant Gesiena, wat al 91 jaar aan hierdie gemeente behoort, fluister soos net ou-mense dit hard doen: As dinge só aangaan, preek hy eersdaags in sy onderbroek.
Die tyd het aangebreek vir die voorsang en ek moet "O, Heer, my herder sorg vir my" speel, maar slaan sommer met die intrapslag ‘n verkeerde akkoord raak. Ek maak my oë toe en bid: "O Heer, my herder help my tog." Ek trek toe ‘n verskriklike gesig en improviseer na die regte een toe. Tannie Gesiena sê: "Alle klippers, maar die kind is musikaal."
Mnr. Vos, wat nou al 40 jaar lank ouderling is, laat sak sy kop om in oudergewoonte ‘n uiltjie te knip, die dorp se nuwe binnenshuis-versierder, Stephanus Geldenhuys, stap die kerk binne en toe tannie Miems die eye-liner sien, begin sy weer van voor af bid en toe dominee die seën uitspreek, sê tannie Gesiena dat sy tog maar die vlermuis-effek van die toga verkies.
Met die gesing van die Amen, is mnr. Vos weer met ons, tannie Miems sluk nog ‘n handvol anti-depressante en mev. Dominee se liedboek val en met die gebuk om dit op te tel, hou tannie Miems haar hand voor oom Jan se oë, my hele lewe flits voor my verby en voor my sien ek die Sionsberge soos daar gebuk word.
En so tussen al die orrelpype, togas, orrelskoene met ‘n hak en ‘n punt en ‘n lidmaat met eye-liner, word daar kerk gehou. En mag ons so voortgaan ... tot in die ewigheid. Amen.