Orlando Bloom, veral bekend om sy rol as Legolas in The Lord of the Rings, is binnekort in Suid-Afrika vir die maak van 'n nuwe fliek wat die donker kant van die post-apartheid-era uitlig.
Die fliek, Zulu, is gegrond op die gelyknamige boek van die Franse skrywer Caryl Férey waarin hy die sosio-politieke klimaat van Suid-Afrika ná die 1994-verkiesing onder die loep neem. Dit het 'n aantal literêre pryse in Frankryk gewen, waaronder die Franse Grand Prix-prys vir die beste misdaadroman in 2008.
Jerome Salle verfilm nou dié boek met Bloom en Djimon Hounsou in die hoofrolle.
Die twee is te sien as Suid-Afrikaanse polisiemanne wat die moord van die 18-jarige Nicole Wiese moet ondersoek. Sy is die dogter van 'n Springbok-rugbyspeler en so saam met die ondersoek raak dinge al hoe donkerder, berig die webwerf empireonline.com.
Verfilming begin glo in Julie in Kaapstad.
Salle was ook die regisseur van die Franse 2005-fliek Anthony Zimmer, wat in 2010 oorgemaak is as The Tourist.