Oorlewingsgids vir jou skooljaar

  • 5
    like dit
  • 3
    like dit nie
Is jy gereed vir die jaar?

Behalwe vir huiswerk, toetse en naskoolse aktiwiteite bestaan die skooljaar uit duisende klein goedjies wat saamwerk om jou ervaring of baie lekker of vrek goor te maak. JIP help jou om sin te maak.

‘Chill'
Jy weet al vanjaar gaan mal-besig wees, maar haal diep asem, stel realistiese doelwitte en gee jou beste, sê Marissa Morkel, 'n kliniese sielkundige.
Albert van Wyk het in 2011 aan die Hoër Tegniese Skool John Vorster in Pretoria gematrikuleer met sewe onderskeidings. Hy was ook die drummer in die band 3rd Speech (hulle het aan Rockspaaider deelgeneem). Sy raad? "Hoe meer jy doen, hoe meer kry jy gedoen. Bestee elke minuut van elke dag produktief en moenie lui wees nie, want dit lei tot meer luiheid." - Eljana de Beer


Reëls, argh
Jou  mond  is  dik  want  jou sexy vakansiehare moes plek  maak  vir  'n  netjiese, vervelige skoolhaarstyl.
Is die reëls oor hoe jy moet lyk, rêrig nodig?
Volgens mnr. Rudolph Cloete van Welkom-Gimnasium in die Vrystaat, is netheid 'n goeie karaktereienskap en dit help sommer vir die higiëne in 'n skool met honderde mense. Hy sê ook omdat dieselfde reëls vir almal geld, help dit om klieks te voorkom.


Boeke 101
Jou ma het (hopelik) teen dié tyd opgehou om jou boeke vir jou mooi te maak. As jy sukkel, is
daar op YouTube hope video's wat jou stap vir stap wys hoe om boeke oor te trek, soos dié een wat jou wys presies waar jy moet knip, vou en plak vir die beste resultate: http://www.youtube.com/watch?v=yJxbPrim0_o.


Ek laaik jou stukkend
Skoolromanse is dalk onvermydelik, maar as jy in almal se goeie boekies wil bly, is dit beter om nie te vryerig op die skoolterrein te raak nie. Dis vir min mense lekker om te sien hoe hul klasmaats pouses in Siamese tweelinge met een mond verander.
Behou vanjaar jou waardigheid, veral as jy in gr. 8 is en drool oor die eerstespanrugbykaptein. Die geheim is om jouself te bly en nie die loud-ste of weird-ste in die skool te wees om raakgesien te word nie.
Moet ook nie voel soos 'n mislukking as jou geheime geliefde jou nooit raaksien nie. Soenlose vriendskappe sorg 90% van die tyd in elk geval vir minder drama.


Mwah
Die minirok is nie die enigste ding wat in 1965 die lig gesien het nie. Lip-Ice is ook al van daardie jaar op die rak en is een van die goed waarsonder Suid-Afrikaanse tieners nie by die skool kan oorleef nie. Volgens die ouens by Lip-Ice is lipglans nie verslawend nie. Maar hulle sien g'n rede waarom jy nié verslaaf moet wees aan soenbare lippe nie. -  www.lipice.co.za


Proefbuis vir 'n hele lewe
Hoërskool is toe nié useless nie. In Fitting In, Standing Out skryf Robert Crosnoe navorsing het bewys hoërskool is 'n vormingservaring waaroor jy later bly sal wees. Veral omdat jy met 'n crazy klomp mense, van nerds tot jocks, te doen kry en sosiale uitdagings moet kan hanteer. - www.time.com


Skop 'n Boeing aan die brand
Enigiemand kan kookwater-kuite hê X jy hoef nie agter 'n té lang rompie weg te kruip nie. 'n Maklike manier om aan jou bene te werk, is om skool te toe stap of fiets te ry. Doen ook squats en lunges as jy die tipe bene wil hê wat monde laat oophang. Kry raad by die gim oor hoe om dit rég te doen, sodat jy jouself nie beseer nie. Te skaam? YouTube kom tot jou redding met stap-vir-stap wenke vir mooier bene. JIP hou veral van dié eenvoudige video: http://www.youtube.com/watch?v=k7W0seCn14s.


Ag, gross, man!
Die eerste bubblegum, Blibber-Blubber, is in 1906 ontwikkel en dié kakebeenkougoed is vandag nog net so gewild. Dat jy by die skool in kougom gaan trap of daarop gaan sit op die paviljoen, is onvermydelik. Moenie uit-freak nie. Gaan bedel 'n ysblokkie by die snoepietannie, vryf dit oor die kougom sodat dit kan hard word en krap dit af. Jy kan ook die materiaal agterkant om stryk, voordat jy die harde kougom aftrek. - www.kidshealth.org, www.inventors.about.com


Dink kodetaal uit
Soms kan jy nie wag tot pouse om iets vir jou pêl te sê nie. In die boek How to Give a Wedgie and Other Tricks, Tips and Skills No Adult will Teach You, sê Dave en Joe Borgenicht tydsberekening is alles.
"Jy kan gewoonlik notas vir jou vriend aangee as jou onderwyser sy rug draai. Maar wees versigtig vir die fake-out. Dis wanneer jou onnie wegdraai en dan weer dadelik na jou toe terugdraai." Hulle stel ook voor jy dink 'n kodetaal uit as jy régtig onder die radar wil bly.
(Kry dié boek, ISBN: 978 006 073 752.)


Hoe kleiner hoe ‘cooler'
Ingeligte bronne wat nog op skool is, vertel vir JIP klein skooltasse is hoogmode.
As jy régtig modebewus is, sal jy glo 'n tas aanskaf met 'n gewilde Disney-karakter daarop.
Pennesakkies is glo ook meer gewild as penneblikke en sommige leerders dra sommer hul skryfbehoeftes in hul broeksakke rond, sê me. Juanmérie Swart, 'n onderwyseres. Omdat daar nie juis plek in klein tassies is nie, is lockers steeds 'n gewilde bêreplek. - Eljana de Beer


Lui, lui telefoon...
As jy mense by die skool daarna gaan laat luister, moet jy 'n lekker ringtone kies:
Sexy and I know it - LMFAO
I got a feeling - Black Eyed Peas
We don't need no education - Pink Floyd
Die vraagstuk - Heuwels Fantasties en Jack Parow
Girlfriend - Avril Lavigne
What doesn't kill you (stronger) - Kelly Clarkson
Cooler as ekke - Jack Parow
Jy is 'n langvraag - Navi Redd

Gebruikers Kommentaar (2)

  • Mariana
    30 days ago
    Baie Cool, dalk net meer fokus op : - as jy sport doen is dit awesome dit hou jou brein positief en wakker en dit het 'n GROOT "positive" op jou akademie wat baie belangrik is - Geniet dit ouens skool is regtig eintlik 'n "jol" met harde werk. Grootmenslewe mmmm hardewerk en groter verantwoodelikhede...
  • Danel
    1 month ago
    Interesant!
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar