Dit lyk nie asof die staking naby aan verby is nie.
Die ontwrigting van Vrystaatse onderwys kan moontlik nog lank voortduur.
Die grootste onderwysvakbond in die provinsie, Sadou, het te kenne gegee die party gaan nie die regering se nuutste aanbod van 'n 7,5%-salarisverhoging en 'n R800-huistoelaag aanvaar nie.
Dit kan meebring dat die reeds uitgestelde voorbereidingseksamen vir matrikulante wat op 6 September moet begin, weer in die gedrang is.
'n Ingeligte het aan Volksblad gesê die besluit van Sadou is baie slegte nuus en kan selfs die matrikulante se nasionale senior sertifikaateksamen aan die einde van die jaar in die gedrang plaas omdat uiterse waardevolle voorbereidingstyd nou verlore gaan.
Mnr. Maruping Marumo, provinsiale sekretaris van Sadou, sê die vakbond staan by sy versoek van 'n 8,6%-salarisverhoging en 'n huistoelaag van R1000.
Die vakbond het net minder as 16000 lede in die provinsie.
"Ons sal vanaand (gisteraand) verder vergader oor wat ons te doen staan. Maar ons kan dit onomwonde stel dat ons nie die nuutste aanbod aanvaar nie," sê Marumo.
Mnr. Louwrens Strydom, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa in die Vrystaat en Noord-Kaap, sê die vakbond se besluit of hy die aanbod gaan aanvaar of nie kan nog enige kant toe gaan.
"Die finale besluit is nog nie geneem nie. Op die oomblik kan ons nog besluit of ons die aanbod gaan aanvaar of gaan verwerp."
Hy sê die besluit sal vandag bekend wees.
Strydom sê op die oomblik is die situasie by Vrystaatse skole nog presies dieselfde as die afgelope twee weke.
By sommige skole gaan onderrig voort en by ander is daar nie onderwysers of leerlinge nie.
Hy sê die vakbond verwelkom die Vrystaatse onderwysdepartement se gebeurliksheidplan om leerlinge te help om verlore werk weer in te haal.
Volksblad het gister berig oor die aksieplanne wat onder meer behels dat skoolure verleng gaan word en klasse op Saterdae gegee gaan word.
"Dit was in elk geval die plan om self planne in werking te stel om onderrig by skole te ondersteun."
Mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê die vakbond is steeds besig om inligting in te samel voordat 'n besluit "waarmee almal gemaklik voel" geneem sal word.
Mnr. Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat, het op 'n nuuskonferensie vroeër die week gesê die departement beywer hom om alles moontlik te doen om onderwys te steun.
- Volksblad