Daar is min dinge wat die mensdom al wou hê wat hy nie gekry het nie.
Kyk maar net na MTV Cribs om popsterre met agt Ferrari's, 'n hartvormige swembad en snoekertafels met egte goue balle te sien. Ons het al mense maan toe gestuur, ons kan al foto's met ons selfone neem en ons kan ons huis via satelliet uit die ruimte opspoor.
Boonop het CNN onlangs bevestig dat ruimtetoerisme binnekort die lig gaan sien.
Dit beteken my kleinkinders sal moontlik vir vakansies na die maan kan gaan, pleks van Mosselbaai.
As die lewe een groot verspringbyeenkoms is, dan is elke generasie 'n jonger atleet wat nog verder in die sandput spring. Elke opeenvolgende generasie kry dit reg om die rekords te breek.
In sport het dit nou al so erg geraak dat mense wonder hoe de hel die toekomstige atlete die 100 m in minder as 9 sekondes sal kan aflê, want dit gaan beteken dat hulle meer as tien meter per sekonde moet hardloop.
Dieselfde geld amper al die vlakke waarop die mensdom uitbrei.
Ons tegnologie word jaar na jaar kleiner en beter. Vergelyk maar net 'n platespeler met 'n iPod, of 'n stiffy met 'n flashdisk.
Die een ding waarmee die mensdom egter al van die begin af worstel, is die vermoë om te kan vlieg.
Ek dagdroom gereeld oor hoe ek deur die wolke skiet, soos Peter Pan gekruis met 'n Powerpuff Girl.
Gelukkig is daar die afgelope eeu al baie vooruitgang hiermee gemaak.
Kyk maar net na vliegtuie, helikopters en ruimteskepe. Die mens en sy masjiene kry dit keer op keer reg om moeder natuur uit te oorlê. Ons breek uit haar ystergreep en spoeg op haar wette.
Soos enige rebelse kind het die mensdom altyd iets om te bewys.
Daar is egter 'n ander manier om vooruitgang teweeg te bring.
In plaas daarvan dat ons teen die aarde se kragte skop, kan ons met baie minder moeite daarmee saamwerk.
Daar is 'n nuwe sport wat hierdie idee baie goed illustreer. Die mens se wens om te vlieg word deesdae waar gemaak deur 'n klomp adrenalienverslaafde valskermspringers met vlerkuitrustings.
Hierdie ouens dra basies pakke wat vlerke tussen die bene en arms het, wat maak dat hulle kan "vlieg". Hulle kan teen 'n berg afspring en soos 'n reuse-arend twintig meter bo die grond sweef.
Dis so eenvoudig soos om die natuurlike wette van die wêreld te gebruik om jou so lank as moontlik in die lug te hou.
Dis 'n bietjie meer opwindend as om 'n nuwe maatjie op MXit te maak.
Natuurlik gaan daar hier en daar 'n dapper baanbreker dood, maar vooruitgang het maar sy prys.
Ons moet net seker maak dis 'n prys wat ons bereid is om te betaal, en nie een wat die mensdom vroeg van die aarde af gaan vee nie.
'n Roadtrip na die maan klink darem vreeslik baie lekkerder as om mense aan die ander kant van die aardbol met kernmissiele op te blaas.