Senioritis.
Dit is 'n nie-amptelike mediese toestand wat die tyd van die jaar by matrieks gediagnoseer word.
Teen dié tyd is ons interskolebyeenkoms al verby en het ons skool hopelik gewen. Behalwe vir die matriekafskeidgeselligheid wat nog voorlê, is my jaar so te sê verby. O, ja, en dan is daar daardie klein faktor, die eindeksamen, wat nog voorlê.
Verlede jaar se matriekgroep (en die groep voor hulle) wou ook verlede jaar dié tyd vir eens en altyd met skool klaarmaak.
Ek het gedink hulle is mal, maar nou verstaan ek. Die meeste van die groot gebeure op die kalender is doodgekrap en al wat nou in klaskamers gebeur, is hersiening (boring. . . zzzzz).
Die enigste mense wat werklik in die klas oplet, is dié wat die provinsiale merietelys wil haal, of dié wat matriek nie wil herhaal nie. Die res float maar net. Dit is ook teen die tyd dat die gr. 11's begin opgewonde raak. Hulle tel die sekondes tot matriek. Naïewe, waningeligte kinders.
Ag, ons was ook eens jonk. Matriek is nie net maanskyn en rosegeur nie. Dit is bitter bedrywig en jy sukkel om by alles uit te kom. Hoeveel keer het jy nie al by jou medematrieks gehoor nie: "Ek is gatvol. Ek wil net klaarmaak."? Ja, ons almal se koppe begin al universiteit toe staan.
En ons smag na vryheid, vryheid, vryheid. . . terwyl ons voel ons word by die skool onderdruk. Ek dink ons behoort ons te skaam. Onthou hoe amped ons almal verlede jaar dié tyd was? "Matrix'11 - kom ons maak dit een om te onthou."En dit wás een om te onthou.
Ons het 'n paar mal tye beleef, maar as jy die Facebook-praatjies kan glo, verloor almal nou stoom. Daardie selfde oudmatrieks van verlede jaar begin boonop nou terugverlang skool toe. Die werk is skynbaar minder op skool (hoe is dit moontlik?) en hulle mis die roetine (huh?).
Ai, 'n mens raak darem weird as jy die skool verlaat. Ek kan nie glo ek sê dit nie, maar dalk moet vanjaar se matrieks skool en kindwees vir oulaas geniet - voordat ons die volwasse wêreld betree. Ons ís immers anders as al die ander matriekgroepe voor ons. Daar was seker in 1993 iets in die lug, want die matrieks van '11 is legendes. Ons sal onthou word lank nadat ons die skool verlaat het. En op die 10-jaar-reünie sal ons beslis met trots kan sê: ‘Die Matrix'11 het hul bes gedoen'. – Christiaan du Plessis is in gr. 12 aan die Hoërskool Swartland in Malmesbury en is een van JIP se JJ's.