Nicholas Cage skitter in "Seeking Justice"

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Nicholas Cage in Seeking Justice.

Seeking Justice
Aksieriller


Met: Nicolas Cage, January Jones, Jennifer Carpenter, Guy Pearce, Harold Perrineau
Regie: Roger Donaldson


Geregtigheid word nêrens klinkklaar op 'n skinkbord na jou toe aangedra nie.

As dit wél so was, sou daar jaarliks honderde minder rolprente oor dié onderwerp vervaardig kon word. Dit bly 'n soeke, soos dié jongste toevoeging uitwys.

Die tema en storie van Seeking Justice kan in 'n enkele sin opgesom word: Getraumatiseer deur 'n aanval op en verkragting van sy vrou, onderhandel 'n doodgewone onderwyser met byna Faustiaanse oortuiging met 'n weerwraak-groep om die skuldiges aan die pen te laat ry.

In New Orleans waar Will Gerard (Nicolas Cage) voor sy klas staan om leerders met digkuns en Shakespeare te verryk en sy aantreklike vrou, Laura (January Jones), die tjello in die plaaslike orkes speel, is dit eintlik die boewe wat wil oorneem. Will wil ook vermy dat Laura aan 'n uitgebreide hofsitting blootgestel word.

Die polisie is lankal korrup en onbetroubaar en omdat dit so is, word Will spoedig genader deur ene Simon (Guy Pearce), 'n geheimsinnige kaalkopman in 'n pak klere. Hy oortuig Will dat hy die mannekrag besit om doeltreffend weerwraak te neem. Al wat hy moet doen, is om een of ander tyd vir húlle 'n guns te bewys: quid pro quo, wat ruweg "iets vir iets", "dit vir dat" of "gee en neem" beteken.

Spanning begin laai wanneer Will oor tyd nie sy kant van die ooreenkoms kan nakom nie. Hoe kan 'n onderwyser oornag die kennis opdoen van hoe vergelding in die misdaad-onderwêreld funk­sio­neer, laat staan om dit alleen aan te vat? En wie kan hy werklik vertrou?

Die goeie nuus is dat Seeking Justice Cage se beste vertolking van die afgelope jaar bied. Minder aangenaam is dat die intrige by tye so werklik deursigtig raak.

Cage is op sy beste as sy karakter deur botsende emosies moet werk. Daar is 'n hele aantal ongemaklike voorbeelde daarvan te sien.

Dis egter jammer dat hy te dikwels moet abdikeer voordat hy die morele dilemmas waarmee hy worstel, kan oplos.
January Jones verras met stewige spel, terwyl strakgesig Guy Pearce nie 'n greintjie emosie, laat staan simpatie, uit sy gesig laat straal nie.

Die fliek het sy kwota jaagtogte, asook oomblikke van humor wat op die regte plekke as ongeforseerd uitstaan. Dit lig die prent minstens by tye tot 'n bogemiddelde vlak uit.

Jennifer Carpenter, in die rol van Laura se beste vriendin, se karakter bly onderontwikkel - iets wat dalk suggereer dat heelwat van haar bydraes op die redigeerder se vloer beland het.

Ouderdomsperk: 16TG.
Tydsduur: 104 minute.
Soortgelyke prent: Death Wish


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar