Ek onthou my heel eerste selfoon.
Ek dink ek was in gr. 11 en dit was so 'n moewiese stuk ding - as ek dit op my voet sou laat val het, sou ek seker krukke nodig gehad het.
My selfoondeuntjie was maar die gewone trieng-trieng. My foon het nooit in die klas gelui nie, want niemand het my ooit gesoek nie. Ek het eintlik maar net Snakes op die foon gespeel en af en toe 'n SMS gestuur.
Ai, die goeie ou dae. Nou is ek 'n joernalis en my foon lui omtrent elke oomblik.
By die werk met tien joernaliste in 'n kantoor lui daar omtrent elke 5 minute 'n ander deuntjie. Jy kan hulle al van mekaar onderskei.
Die baas het die een of ander Abba-liedjie (ek vra nie meer vrae nie), die student-kollega langs my het so 'n baba wat lag (dit irriteer my woes) en die langkuifkollega agter my het 'n Heuwels Fantasties-tjoen.
Het julle al agtergekom hoe baie 'n mens se selfoondeuntjie van jou verklap?
Myne is Crazy Little Thing Called Love van Queen - en dit is omdat ek dink liefde is tans 'n bietjie van 'n taboe-onderwerp en ook omdat ek vrék oor musiek van die jare sestig van die vorige eeu.
Daar is egter die één deuntjie wat my 20 keer per dag op my tong laat byt en my tone teen mekaar laat krul. Dit gebeur wanneer daardie een kollega se foon lui dat ek in my spoeg verstik. Adele se Someone Like You.
Dit is nie dat ek nie van die liedjie hou nie; inteendeel, ek dink Adele is awesome. Maar 20 keer per dag? Seriously. Hoe heavy sad moet jou lewe wees om minstens 20 keer per dag na daardie hartseermelodie te luister?
Maar toe lees ek onlangs op Facebook hoe maklik ons daagliks ons eie prentjies van mense vorm deur hulle net een kyk te gee: 'n Meisie wat op 15 jaar swanger is - slet;
'n tiener wat vet is - lui; en
'n man wie se gesig vol bloukolle is - moeilikheid-maker.
Wat as dit so was: Die meisie is op 15 jaar swanger omdat sy verkrag is. Die tiener is vet omdat hy/sy aan 'n mediese toestand ly. Die ou het bloukolle omdat hy vir sy land in die weermag baklei.
My afleiding oor die selfoondeuntjie klink dalk kleinlik, maar dit is onregverdig om mense te beoordeel deur net na hulle te kyk en menings te vorm soos dit óns pas. Someone Like You gaan my moontlik 'n traanmarathon laat hardloop, maar dalk, dalk is daardie mens net hopeloos verlief.
'n Mens weet net nooit.