‘My onnie staak' - dis onbillik en stresvol, sê leerders

  • 2
    like dit
  • 1
    like dit nie
Hoe affekteer die staking jou?

Almal gis oor die impak wat die landwye onderwyserstaking gaan hê.

Verlede week het die Gautengse onderwysdepartement aangekondig daar is besluit om die rekordeksamen, wat Vrydag moes begin, met sowat twee weke uit te stel. Na wat berig is, sou die meeste provinsies, behalwe die Wes-Kaap, moontlik Gauteng se voorbeeld volg.

Maar wat dink matrieks, wat al van Januarie af oor die belangrikste eksamen van hul skoolloopbaan sweet, oor die impak van die onderwyserstaking?

"Gaan ons op Kersfees 'n blokdag kry as ons eers in Januarie eindeksamen moet skryf?" wil Niklaas van der Walt van die
Hoërskool Sentraal weet.
"Ek verstaan dat onnies meer geld wil hê en moet staak, maar ek dink glad nie dis billik om die eksamen op ys te sit nie," sê hy. "Wat as dit beteken ons kan eers in 2012 begin studeer?"

Hesta van den Heever van die Hoërskool Eldoraigne voeg by die feit dat matrieks aanvanklik nie geweet hoe die staking die rekordeksamen sou beïnvloed nie, het tot onnodige spanning gelei. "Dis so 'n vreemde situasie, want die rekord- en eindeksamendatums is mos vás. Hoe nou as alles heeltyd uitgestel gaan word? Daar is nie 'n manier wat ek my matriekeindeksamen eers in Januarie wil aflê nie!"

Petru Malan van die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria sê die feit dat stakings die matriekeksamenreëlings omverwerp, is onverantwoordelik. "Dit is erg dat die eksamen in Gauteng uitgestel is, want kinders kan lui raak en te min studeer."
Volgens Malan het die feit dat die eksamen uitgestel is hulle nie regtig geraak by AHMP nie omdat hulle, soos baie ander skole, 'n interne eksamen volgens die oorspronklike rooster gaan volg.

Chriswell Valentine van die Hoërskool Montagu sê dat stakende onderwysers leerders daarvan weerhou om hersiening te doen met onderwysers se hulp, is nog een van die negatiewe implikasies van die staking.
"Ek dink ook dit is verkeerd van stakers om by skole te kom betoog en die skole te versteur waar onderwysers nié staak nie," sê hy.

Lees meer oor die staking by www.beeld.com, www.dieburger.com of www.volksblad.com.

Gebruikers Kommentaar (1)

  • Suzanne Vosser
    20 months ago
    Dit is en bly 'n groot gemors vir ons as graad 12 leerders. Baie van die skole het geen probleme nie, en gaan aan soos gewoonlik, ander lê hulle eie interne eksamens af. Ons kan nie eers by ons skool perseel ingaan sonder om geviktimiseer te word nie, wat nog te sê interne vraestelle skryf. Dit is sleg om graad 12 te moet skryf en optimaal te presteer in 'n agtergeblewe provinsie soos Limpopo. Dis nie regverdig nie, en alle graad 12 leerders moet oor dieselfde kam geskeer word. Wat van my regte soos vervat in die grondwet?
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar