Mooie Marilyn steel weer die kalklig in nuwe fliek

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Michelle Williams vertolk die rol van Marilyn Monroe in My Week With Marilyn.

My Week with Marilyn
Drama


Met Michelle Williams, Eddie Redmayne, Kenneth Branagh


Regie: Simon Curtis


As Marilyn Monroe by 'n vertrek ingekom het, was dit asof iemand per abuis 'n ligskakelaar aangeskakel het.

Almal - mans én vroue - het die elektrisiteit aangevoel en in die lig gebaai, het 'n joernalis iewers haar uitwerking op mense beskryf.

Die prent van die regisseur Simon Curtis bied 'n glimp op die tragiese ster se uitstraling. Haar persoonlike lewe, liefdes, leed en dood was oral voorop.

Haar natuurlike, geskakeerde en stip toneelspel wat geen handboek of afrigter iemand kon leer nie, is nie altyd na waarde geskat nie. Gaan kyk maar na Some Like It Hot. As die kamera begin draai, het Monroe eenvoudig geskitter.

In die week waarin nog 'n ster, Whitney Houston, tragies gesterf het, belig dié prent opnuut en op 'n sensitiewe wyse hoe blootgestel en op die nerf sterre leef in 'n tyd waarin alles besit kan word, ook iemand se reg op privaatheid.

My Week with Marilyn is 'n verwerking van die rolprentmaker Colin Clark se skrywe toe hy as assistent van die regisseur gewerk het op die stel van The Prince and the Showgirl, Laurence Olivier se eerste (en enigste) rolprent met Monroe. Die redes is gou duidelik!
Dit is eintlik Clark se storie, wat handel oor die week in sy lewe wat die skaam dog vasberade jong man skielik 'n meter of wat langer laat staan het, danksy Monroe.

Hy word aangesê om die "wispelturige" Monroe dop te hou en te sorg dat sy betyds op stel is. So is hy daagliks in haar wentelbaan en ontvou die verhaal van 'n mot wat deur 'n kersvlam bedwelm word. Sy lot is bittersoet; ons beleef sy deurgangsrite na volwassenheid.

Die prent leer ons ook eintlik alles wat ons reeds weet van Monroe: dat sy weerloos en geestelik onstabiel was, dat sy 'n verskriklike kindertyd gehad het en van die een pleeghuis na die ander geboender is, en dat sy haarself uitgelewer het aan die goedkeuring van ouer mansfigure.

Daar word veral gefokus op haar huwelik met die Amerikaanse dramaturg Arthur Miller en die vonke op stel met Olivier, wat nie erg had aan haar manier van toneelspel nie.

Kenneth Branagh is uitstekend as Olivier, die bedroë Britse teaterleeu wie se plek in die kollig raampie vir raampie deur die "liggewig" Monroe gesteel word.

Alles ter syde - Monroe steel al weer ál die kalklig - en terug by Eddie Redmayne as Colin, wat haar deurgaans met naakte verwondering aanstaar. Redmayne speel sonder geveinsde onskuld. Vir my is hy die eintlike ster hier.
Dit is nie maklik om die mot in die omgewing van die skoenlapper te wees nie, maar Redmayne bly getrou aan die karakter.
Hy is die drommel wat nie Monroe se lewe mog betree nie, wat haar met raad en daad bystaan. En dan maar tog afgemaak word as die "outjie" sonder lewenservaring.

Ná afloop van My week with Marilyn voel die storie net te effentjies om die aandag te behou, ons moet eintlik maar soos Colin deurgaans vir Monroe bewonder.

Dit word eintlik 'n oomblik of wat se skouerskuur met Monroe - en danksy Michelle Williams se uitstekende vertolking voel dit soos reïnkarnasie.

Ouderdomsperk: 13TVD. Tydsduur: 103 minute.
Soortgelyke prent: I'm Not There


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar