Moenie my bekruip nie

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Aldu Duminy

Vir my is daar min goed so lekker soos om geld uit te gee.

Ek is dol oor die gevoel dat iets aan jou behoort en dat jy enigiets onder die son daarmee kan doen. Om dit tussen jou hande te vryf en te weet "hierdie ding behoort aan my, en ek hoef dit met niemand te deel nie".

Dis ook hoekom ek heelwat tyd in winkels deurbring. Ek's nou nie 'n obsessiewe inkopieman wat daarvan hou om dáe in winkels deur te bring en vir my padkos in te pak as ons mall toe gaan nie.

Maar die kere dat ek die kans kry, geniet ek elke oomblik daarvan . . .
My maandelikse sakgeldjie is maar karig - dis waarom ek nie altyd enigiets van die winkelrak kan ruk, betaalpunt toe kan storm en daarmee weghardloop nie.

Dis sulke tye dat ek maar met my hande in die sakke stadig deur die rakke moet wandel met die hoop dat iemand vir my R200 weggesteek het. Dan voel jy aan die materiale, ruik die kos en luister na die fonteintjies - wat anders moet jy tog doen?
Dis gewoonlik in sulke omstandighede wanneer die verkoopsassistente jou van agter af bekruip en die groot vraag vra: "Kan ek help?"

Ek verpes daardie vraag meer as wat ek my skoolskoene ná 'n Desembervakansie verpes. As ek hulp nodig het, sal ek vra.
Maar dit eindig nooit hier nie. Omdat ek altyd die winkels met 'n army-pak en gewere besoek, moet die personeel my met fyn oë dophou, want ek kan enige oomblik met die slaaibak weghardloop.

As jy eendag 'n winkelassistent is, moet asseblief nie jou klante ooglopende met valkoë dophou nie . . .
Gewoonlik loop ek sommer uit die winkel nadat daardie vloekvraag aan my gerig is.
Die kere dat my pa vir my genoeg geld gee, gryp ek al wat 'n kledingstuk is en sluip na die eerste leë aantrekhokkie. Ek het 'n vrees vir hierdie klein hokkies.
Daar is in die meeste gevalle 'n volle 360 °-visie van jou lyf.

Ja, ek weet al die spiertiere en modellyfies daar buite lééf vir sulke oomblikke, maar jammer om jul vuurtjies te blus - die meeste van ons het nie dun middeltjies of 'n six pack nie.
Skroef daardie spieëls af en plaas dit op 'n sielkundige eerder as 'n logiese wyse . . .
Wanneer ek ná die aanpas-sessie met hope klere, wat om die een of ander onverklaarbare rede nie pas nie, uit die aantrekhokkie kom, is daar van die eens hulpvaardige winkelassistente géén teken nie.
Dis dán dat ek hulle van agter bekruip en vra: "Kan jy my help?" - Aldu Duminy is een van JIPse JJ's en is tans 'n leerder aan die Hoërskool Langenhoven in Riversdal.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar