Menings oor tiener-gay-wees

  • 7
    like dit
  • 2
    like dit nie

* Ek verstaan nie hoe ‘n tiener kan besluit hy of sy is gay nie. Ek bedoel, jou seksualiteit begin nou eers ontluik. Hoe kan jy besluit jy is gay? Wat as jy ‘n fout maak? Hoe maak jy dit reg? As tiener het jy al hierdie vreemde emosies in jou. Eendag voel jy goed, die volgende dag nie. Jou liggaam verander, en jy weet nie aldag wat om daarmee te doen nie. Partykeer voel jy meer aangetrokke tot jou beste vriendin en môre weer tot jou beste vriend. Jou emosies ry wipplank. Hoe kan jy dan besluit jy is gay? - Hanlie

* Met navorsing is bewys dat 35% van die skape homoseksueel is. Julle wat nou die gay mense so aanval met die Bybel, sal julle die skape dan ook met die Bybel slaan? Weet julle dalk iets van genetika? - Leon Kruger

* Sommige van die KOMMINtare maak my siek. Ek het uit die kas gekom toe ek 15 was. Dit was nie maklik nie; baie aande het ek gebid om straight te wees. Daar is mense wat my slegter as ‘n hond behandel het. Gelukkig het my geloof my deur al die moeilike tye gehelp, en vandag is ek getroud met ‘n wonderlike man. En ja, ons is Christene en lewe volgens die Woord. Ek weet ek is wat God my gemaak het, en ek glo enig­iemand wat my wil verander, probeer Sy wil teen te werk. - Neil Smit-Joubert

* Baie dankie vir 'n puik artikel. Ek is 'n gay man in die dertig en wens daar was sulke leesstof toe ek my stryd moes voer! - Nakkie

*  Dis totaal onwerklik om te dink dat enig­iemand 'n "bevoordeelde" is wat aanspraak kan maak om te weet hoe ander mense moet wees en nie moet wees nie. En van wanneer af marginaliseer 'n mens 'n persoon? Is jy dan beter? Meer spesiaal? Word groot, die lewe gaan verby. Gay is nie 'n trend nie, nog minder 'n siekte. Dis ­iemand se lewe. O ja, en sien, ek het niks eens van godsdiens gepraat nie. Want dis hier irrelevant. - Eben du Toit

*  Vergeet wat ander mense doen en is. Bepaal jou by jou eie norme en begin lewe, want anders gaan jy eendag agterkom jy het jou te veel oor ander bekommer en dat jy self vergeet het om te leef, en jy leef net een keer. - William

*Dankie vir 'n puik artikel. Ek is gay en ek wens Die Burger en JIP het sulke artikels in die 90's gehad toe ek deur al my worstelinge gegaan het. Om in die Afrikaanse gemeenskap groot te word (en nog op 'n klein dorp) en te besef jy is gay, was seker die mees traumatiese ding in my lewe. Die Afrikaanse gemeenskap besef nie watter skade hulle doen aan jong kinders nie. Godsdiens het niks daarmee uit te waai nie. Wens mense wil wakker skrik. En vir al die mense wat die Bybel aanhaal net dit: Die wêreld raak al hoe meer liberaal, en kinders aanvaar mekaar makliker as wat julle ou ballies het.
Gay mense is oral, hulle was net te bang om uit te kom. Maar dis aan die verander. Jul kinders of kleinkinders kan tien teen een gay wees en sal uitkom as hulle jonk is. En wat dan? WAT DAN? Moenie oordeel as julle nog groen koring op die lande het nie. - MCD

*  Ek lees deur al die kommentaar en is verbaas om te sien hoe mense se koppe nou nog werk. Ek is in my twintigs en nog in die kas, as gevolg van 'n vrees om als te verloor waarvoor jy (en dié wat jou ondersteun) gewerk het. Dis iets waarmee jy moet wroeg, 'n lewe vol leuens en verskonings. Ek is bang om my vriende te verloor, en die onsekerheid van my familie vreet ook. Dis nie iets wat jy kies nie. Ek't nie op die ouderdom van 9 gedink dis hip of cool of trendy om so te wees nie. Op daai ouderdom het ek geen begrip van seksualiteit gehad nie. Net geweet dat jy 'n meisie moet uitvra of "kys". Ek't net geweet ek wou altyd by my seunspelle wees. In retrospek sal ek alles wil verander, maar hoe kan 'n mens? As jy met bruin hare gebore is en jy kleur dit blond, beteken dit nie jy is blond gebore nie. Jy kan nie wie jy is herskryf nie, al wil jy hóé graag. 'n Mens is so gebore. 'n Mens kies nie om 'n lewe in die hel te lewe nie. Ek hoop net dat God my die oplossing of antwoord sal gee, want ek as mens het al lank tou opgegooi om self een te vind. - Bladsy

* Ek stem saam met Bladsy. Ek is te bang om uit te kom. Al in my dertigs. My beste vriend is gay, en nie eens hý weet van my nie, omdat ek van sy uitkomslag geleer het en besef het dat 'n mens NIEMAND kan vertrou nie. Ek sou ook alles wou verander, nie gay wou wees nie. Maar ek is wie ek is. Maar omdat ek nie kan WEES wie ek IS nie, is depressie maar deel van my dag-tot-dag-bestaan. - Bladsy 2

* Ek stem nie saam dat dit reg is om homoseksueel te wees nie, maar ek sal nooit snaaks optree teenoor homoseksuele mense of hulle verwerp nie. Op die ou einde moet elkeen sy eie besluite neem. - Monstertjie

* Eerstens, dankie vir die liberale artikel! Seker dit kan en gaan duisende mense se lewe en persepsie verander oor dié "donker" onderwerp. Dit kan 'n jare lange stryd word vir enige tiener wat in die "kas" moet leef en hoekom. Waarom? Om in te pas by die samelewing wat "normaal" is? Dit is daarom uiters belangrik dat elke ouer, elke vriend, elke vriendin, elke individu besef dat ons as gay mense net mense met ander behoeftes is, anders as hulle s'n dalk, maar dat ons steeds MENSE is. Mense met gevoelens! Respekteer dus almal en alles rondom jou. Jy is wie jy is, dit maak nie saak wat jy is nie, dit maak jou jou en uniek! - Anoniem

*  Homoseksualiteit is meer as net seks met dieselfde geslag. Net soos heteroseksualiteit meer is as net seks tussen 'n man en 'n vrou. Dit gaan oor ander dinge ook. Partykeer is dit die bonding, die liefde vir mekaar, ensovoorts. Dit is meer as wat sommige mense kan dink of verstaan. Moenie oordeel nie; God is die enigste een wat kan oordeel. En mense wat so uit die Bybel quote, moet asseblief ook vroue begin stenig wat seks voor die huwelik het, want die Bybel se jy moet dié vroue stenig. Hou ook op varkvleis eet. Vroumense, bedek jul kop, ensovoorts. Dit staan alles in die Bybel. Kom ons haal gou 'n versie aan om ander mense af te breek. Selfs die beste sielkundiges in die wêreld kan 'n gay man of vrou nie verander nie. Jy is soos jy is. Net soos iemand wat geestelik (ek dink die persoon bedoel verstandelik?) gestremd is - hy gaan ook nie die volgende oggend wakker word en Einstein wees nie. Aanvaar dit so; hou op om mense te probeer verander wat nie kan verander nie. Dit is nie 'n keuse nie. Gaan ons nou mense uit die kerk begin gooi net omdat hulle gay is? Ag nee wat, die Bybel word heeltemal verkeerd gebruik net omdat dit sommige mense pas. - JJ

Gebruikers Kommentaar (1)


  • 3 months ago
    Being Gay is not a sin, your born that way, its not the easiest thing to go threw until you make peace with yourself, people judge what they don't understand, if your convused and need answers watsh prayers for Bobby, its a eye opener.
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar