Shemone Brooks van Sonder Spore.
Dis geskiedenis!
In die tiende jaar van die JIP Rockspaaider-kompetisie het twee groepe met meisies as hoofsangers tot die topdrie deurgedring.
Een van dié groepe, Sonder Spore, is gister in die eindstryd van die kompetisie op die Vodacom/MK Bultfantasties-verhoog as die Rockspaaider-wenners aangewys.
Die hoofsanger is Shemone Brooks (17). Die ander lede van dié Johannesburgse groep is Johandre van Rooyen (16), Altus Booysen (18) en Mauritz Tuit (18).
Mari Labuschagne (17) is die hoofsanger van Mars Riot van Johannesburg, ook onder die topdrie. Die derde groep was Anderkant die Maan van Vereeniging.
"Dit is fantasties dat daar vanjaar soveel vrouestemme gehoor is," het Haddad Viljoen, bemarkingsbestuurder van
kykNET en MK en een van die beoordelaars, gister gesê.
Die ander beoordelaars was Charl Greyling, nasionale handelsmerkambassadeur vir Jägermeister en die hoofsanger van die groep The Olympic; Francois Kleynhans, baskitaarspeler van Glaskas, wat ook 'n musiekonderwyser is; Pieter de Jager, hoofsanger van Die Tuindwergies; en Marzahn Botha, die voormalige redakteur van JIP en vermaakjoernalis.
Volgens Botha bied Rockspaaider jaarliks 'n uitstekende platform vir jong musikante.
Praat 'n mens met Brooks en haar groep, besef jy hoe belangrik dié platform is.
"Ek glo my plan in die lewe het iets met musiek te doen.
"Maak nie saak wat ek doen nie, musiek trek my altyd weer terug," sê sy.
"Sonder Spore glo alle tieners sal van ons musiek hou omdat ons nie skryf oor politiek, moord of die einde van die wêreld nie, maar oor dinge wat wérklik saak maak in tieners se lewe."
Sonder Spore wen 'n album-opname; 'n musiekvideo; R5 000 en sal by die musiekwinkel Music Connection in Johannesburg benodigdhede en bybehore vir hul musiekinstrumente kan gaan uitsoek.
Lees Maandag 'n onderhoud met die wenners in JIP.