Meisies kom van Venus

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

Jy het seker al gehoor van John Gray se boek Men are from Mars, Women are from Venus?

Dit gaan oor hoe verskillend ouens en meisies is en hoe ons mekaar nie juis kan verstaan nie. Maar het jy nie al gesit en dink hoe maklik die teenoorgestelde geslag dit het nie?

Ek en my vriend André het nou die dag hieroor geredeneer:

André: "Dink daaraan, ek wens ek was 'n flippen meisie, want seuns is altyd veronderstel om die ‘jagters' te wees.
‘‘Ons moet so hard werk om julle te beïndruk en al wat julle hoef te doen, is om net die arme ou 'n kans te gee, ás jy lus is, natuurlik. En dan praat ek nie eens van eendag wanneer jy getroud is en die man baie druk ervaar as die broodwinner nie."

Lizelle: "Nonsens! Die man hóéf nie die enigste broodwinner te wees nie, want die vroue is deesdae net so besig om die pot aan die kook te hou en moet boonop hul tradisionele rolle ook nog vervul.
"En dan sit ek boonop as meisie met die probleem dat ek smag na 'n lekker vet sny kaaskoek, maar ek weet ek sal skaars 'n happie vat en dit sal reguit op my heupe gaan sit, terwyl seuns 'n hele maaltyd kan eet sonder om eers bekommerd te wees oor wat dit aan hulle figure sal doen. Julle het mos 'n metabolisme soos 'n kommandowurm."

Ons albei het ons saak so goed gestel, dat ons mekaar oortuig het en gedink het dit is dalk 'n geval van die gras wat altyd groener is aan die ander kant. Is daar toe tog voordele aan meisie-wees én aan ou-wees?
Dalk is meisies se struweling met daardie stuk kaaskoek 'n manier om ons selfbeheersing te leer sodat ons nie sommer met bokkie-oë voor enige ou se sjarme sal knak nie.

En dalk is dit 'n goeie ding omdat ouens nie sommer alles wat hulle wil hê, op 'n skinkbord moet kry nie. So 'n bietjie van 'n gesukkel met die teenoorgestelde geslag, hoe modern ons ook al is, wakker die oer-oue jagtersinstink in ouens aan en leer hulle om ambisie te hê. Maar dis net één teorie. Want meisies en ouens sal mekaar seker nooit verstaan nie en al maak dit ons mal om met mekaar te doen te hê, sou ons ook nie sonder mekaar kon leef nie.

- Lizelle is 'n JJ en is in gr.11 by die Hoërskool Middelburg in Mpumalanga.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar