Buiten vir 'n paar ringkoppe by die Internasionale Rugbyraad weet die meeste mense darem teen hierdie tyd dat William Webb Ellis se astrantheid op 'n sokkerveld nie tot rugby se ontstaan gelei het.
Dié perde glo mos hierdie leerder van die skool Rugby in Engeland het in 'n flinke oomblik van verontagsaming 'n sokkerbal opgetel en begin sleep. Maar intussen is in hierdie staaltjie soveel gate gekry, en wat is buitendien die kans dat 'n mannetjie wat aandag soek se handelinge tot 'n nuwe sport se ontstaan sal lei?
Nietemin, 'n omgekeerde katastrofe, waaroor ek vandag nog 'n wrok koester, het hom in my matriekjaar afgespeel.
Ons was 340 knape in dié landbouskool. En net soos die beeste na gelang van bedeeldheid 'n vinniger roete na die melkstal verdien het, het jy as 14-jarige kannetjie sekere voorregte ryker geraak soos wat jou stem dikker geword het.
Daar was die korter paadjie vir matrieks vanaf die koshuis tot by die skool wat jy kragdadig oorgeneem het sodra jou voorgangers met hul laaste eksamen begin het.
Dan was daar die voorreg van 'n tweede varktjop oor middag-ete en oor aandete die ontneming van 'n jonger man van sy liter melk.
Maar die ding waarna elke jong landbouer die meeste uitgesien het, was die alle-matrieks-speel-saam-touchies oor die halfuur pouses wat ons soggens en smiddae in die eindeksamen gegun is.
Daar was hordes rugbyballe - meestal seepglad gespeel. Twee kapteins is gekies en daarna val jy by die een waarvan jy die meeste hou in totdat gelykheid bereik is.
Maar toe hierdie voorreg ons 49 matrieks uiteindelik beskore is, stap 'n semi-soutie-vrind van my met 'n Coca-Cola-sokkerballetjie by die koshuis uit.
Vir 'n paar oomblikke is die balletjié nog soos 'n ovaal een rondgegooi, maar die eerste krake in ons tradisie van sweet en vlugvoetigheid was sigbaar.
In ons tweede blaaskans raak al meer kêrels se voete betrokke, terwyl 'n paar van ons tradisionaliste toekyk hoe daardie Ingelsman ons voorliefde vir raakrugby in die gesit vat.
Net 'n handjievol ongelukkiges en 'n paar vettes het oorgebly, en dus sou die spel nooit weer dieselfde wees nie. En van toe af is op óns rugbyveld ongestruktureerde sokker gespeel.
Daardie eksamen was swaar, en my punt vir biologie het van uiters woelig tot 'n gekonsolideerde vermelding vir my moeite geval. En dit álles weens my vrind se doellose gepeuter aan ons balle!