'n Matriekmeisie op die rug van 'n olifant. Verbeel jou. Dis nou wel nie op YouTube nie, maar dit het iewers in die Gauteng gebeur.
En natuurlik was dit haar keuse van "vervoermiddel" na die matriekafskeid daar.
Matriekafskeid - wat 'n cartoon is dit nie deesdae nie! As dit nie arme olifante is wat gesig moet opsit nie, is dit 'n Aston Martin of 'n helikopter wat ten duurste gehuur moet word nadat pa sy enigste polis daarin gestort het.
Waarmee gaan jóú dogter na die matriekafskeid? Ek sou sê: "My kredietkaart."
Net soos Valentynsdag het dit 'n geldmaak-foefie geword. Begroot in gr. 8 reeds vir die matriekafskeid vier jaar later. Neem dan sommer afskeid van jou spaargeld ook.
Waarvan praat ons nou eintlik? Wel, R1 000 vir 'n pak, 'n baadjie teen R500 en 'n broek vir R300. Ja, jy betaal ook vir die hanger. R30 000. Dis wat sommige ouers opgedok het vir grimering, ensovoorts.
Kom nou, is die geld die lang staan in 'n ry motors, trekkers, waterponies en donkies regtig die moeite werd?
Ek laat my nie vertel dat die matrieks uitsien na die lang sit in 'n skoolsaal, entoesiasties en aandagtig luister na die skoolhoof se verwaterde toespraak wat hy jaarliks uit die argief haal en peusel aan die Checkers-poeding nie.
So binne-in die kern van 'n wêreldwye resessie plaas kinders en ouers steeds druk op mekaar om te lyk asof hulle na William en Kate se troue genooi is. Ouers is soms die groot brommers in die perdesalf. Die ironie van so 'n aand is dat matrieks die tyd in die saal verby wens om eindelik die kuier ná die tyd by te woon.
Miskien moet ons die lang-Y-mentaliteit agterlaat. Dis nou die wat-ek-kan-kry-, wat-ek-ry- en waar-ek-bly-houding.
Sonder om kommin te raak, kan iets anders seker oorweeg word. Dit help nie ouers steek 'n preek af oor dat dit moeilike tye is nie. Jy wil die beste hê vir jou seun of dogter; en as jy die naam "ouer" werd is, sal jy alles doen om dit te vermag. Gesels sommer vandag nog met jou makelaar of finansiële raadgewer oor matriekafskeid-beplanning as jy nie die balju op jou voorstoep wil sien nie.
Vraag: Hoeveel is genoeg?