Liewe Jippers,
Teen die tyd dat julle dié rubriek lees, is my berugte, dog kortstondige, wiskundeloopbaan verby. Ek raak sommer aangedaan.
Definitief nie van hartseer nie. Eerder van oorweldigende blydskap.
Want 12 maer jare lank moes ek deur Pythagoras en vierkantswortels worstel. Vir die duur van my skoolloopbaan moes ek uit-figure hoe "sin", "cos" en "tan" eendag vir my hoegenaamd enigiets sou beteken.
Jip, die wiskundeklas was die afgelope tyd vir my 'n martelkamer. Jou bene word nie gebreek nie. Nee, só maklik sal jy nie daarvan afkom nie - hulle dwing jou om somme uit te werk. Dag, na dag, na dag. . .
Ek het seker die opsie gehad om eerder wiskundige geletterdheid te neem, maar ek was nie bereid om myself te verbind met wat die intellektuele snobiste "wiskunde-gestremdheid" genoem het nie.
Dom besluit.
Ek het die "geletterdheids-mense" begin beny. Hulle is aansienlik meer opgewek, lag meer en hulle straal 'n vibe van onbesorgdheid uit.
In skrille kontras daarmee is die "wiskundemense" meestal workaholics met blou kringe onder die oë en 'n vroeë vorm van Parkinson's as gevolg van onbeheerste stresvlakke. Is my radikale gevoelens oor somme geregverdig? Ek dink so.
Jy sien. Hoewel ek myself as relatief talentvol beskou, klop ek en syfers eenvoudig nie. As IK slegs deur numeriese vaardighede bepaal is, sou ek 'n hartseer grensgeval wees. Wat ek hoop nié die geval is nie.
Op die oppervlak lyk dit dalk asof ek 'n doodgewone leerder is wat lou voel oor wiskunde. Ek koester egter 'n diep en intense haat vir dié vak.
Dis dalk geneties, of dalk het 'n spesifieke gebeurtenis my afsku ge-trigger. As dít die geval was, het dit seker in gr. 3 gebeur, want voor dit was ek nog heel gemaklik met syfers.
Daardie jaar het ek egter deur 'n eksistensiële krisis gegaan - Is groen werklik my gunsteling-kleur? Wat is die sin om van nagereg weerhou te word?
Met al dié teisterende vrae kon ek nie aandag in die klas gee nie. Gevolglik het ek agter geraak en kon ek nooit weer inhaal nie.
Ek het seker iewers in die wiskunde-woesteny íéts geleer. . . maar ek kan dit net nie nou onthou nie. . .
Intussen kan julle dit maar verkondig: Christiaan du Plessis is klaar met wiskunde - en hy lewe!
Totsiens,
Die uwe
(Christiaan du Plessis is een van JIP se JJ's. Ons is nogal bly hy hou meer van skryf as van somme.)