Mamma se kind, almal weet jy is die ‘beste’

  • 1
    like dit
  • 1
    like dit nie

Wat is vir jou die toppunt van irritasie?

Is dit 'n irriterende klank soos 'n fyn stemmetjie of naels teen 'n skryfbord?
Of is dit iemand wat dieselfde ding 100 keer vertel?

Party mense sal ná 'n naweek rondloop en vir almal wat nie vinnig kan weghardloop nie, vertel van die wonderlike persoon wat hulle ontmoet het of van die mal goed wat hulle aangejaag het.
En dan kom dit hier by die tweede pouse en moet jy vir die soveelste keer die storie hoor.
Teen daardie tyd wil ek net sê: "Ja! Ons almal het dit al gehoor, dankie."

Nog erger is daardie mense wat 100% vir 'n toets kry en dit dan heeltyd oorvertel.
Vir die gewone mense soos ek wat nooit so goed sal vaar in 'n toets nie, raak dit nogal boring ná die eerste keer dat 'n mens dit hoor. En ja, teen die einde van die dag weet die hele skool dit.
Dan praat ek nie eens van dié wat 90% kry en huil omdat hulle swak gevaar het nie!
Hoe moet die arme siele wat 50% kry dan voel?


Ja, ons weet jy dink die res van die klas is mislukkings, maar regtigwaar, hou dit liewer vir jouself!
Ons weet ook jy het hierdie en daardie kompetisie gewen, dit is by die skool aangekondig. Daarom hoef jy nie die hele tyd daarvan te praat nie.

Baie geluk, maar jy is nie die enigste mens op die Aarde wat goed wen en belangrik is nie. Die res van ons het ook talente. Ons talente is dalk net 'n bietjie beter versteek!
Dan kom die ding wat in my boekies die koek vat. Iemand wat jou in detail, en van die eerste periode tot aan die einde van die dag, oor haar of sy wonderlike ou of meisie vertel. Dié object of affection is altyd die "beste mens in die wêreld".

Obviously is hy of sy die beste! Dit is immers die persoon wat jy gekies het en 'n verhouding mee begin het.
Die res van ons het egter nié sterre in die oë oor jou hart se punt nie. Inteendeel, hy/sy gee ons 'n groot, vet pyn, veral omdat ons weet wat sy gunsteling-fliek en -kleur en -boek en -sjokolade is.

Dié van ons wat single is, is nie lus om na jou liefdesverhaal te luister totdat die son opkom nie.
Verliefdheid is iets wat jy moet ervaar om dit te verstaan.

En as jul verhouding verby is, sal ons seker ook oor en oor moet hoor wie wat gesê het!
Dis eintlik 'n wrede kringloop, want die meeste ma's en pa's dink ook hul kind is die beste, terwyl 'n mens voor jou heilige siel weet sommige van dié bloedjies is moeilikheidmakers of luiaards. Maar vertel oor hoe wonderlik hulle kinders is, sal hulle vertel. Tot die irritasie van almal binne hoorafstand.

Om 'n ding een keer te sê is oukei; om twee keer te spog is nog aanvaarbaar; maar om dit die derde keer te vertel is pushing your luck!
Speel eerder veilig en sê dit een keer of glad nie.

Suzaan Potgieter is 'n JIP-joernalis.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar