Al is die "oorlog" meestal in goeie gees, gaan die skote nietemin Vrydag in die Bellville-stadion klap.
Vier hoërskole sê mekaar weer die stryd in die MTBS aan op die veld én die pawiljoen. Die Burger en Aïda borg dié veldslag, moontlik die grootste skoolatletiekbyeenkoms in Suid-Afrika.
Dit is vanjaar die 18de keer dat die byeenkoms aangebied word. Hoewel D.F. Malan die atletiek reeds 14 keer en Stellenberg die pawiljoenkompetisie drie keer agtereenvolgens gewen het, is daar vanjaar op beide gebiede geen volslae gunsteling nie.
Lank voor die hekke om 06:00 oopmaak, is dit gewoonlik 'n miernes van motors, ouers en ondersteuners buite die stadion. Van vroeg af word daar reeds tou gestaan om 'n plek op die graswalle te kry.
Wanneer die spanoptogte en die openingseremonie om 07:10 aan die beurt kom, bars die stadion gewoonlik uit sy nate en is daar na raming dan reeds sowat 14000 toeskouers om die skouspel te aanskou.
Indien toeskouers teen dié tyd nog nie in die stadion is nie, gaan hulle die asemrowende opening elke skool kry 7 minute van ongelooflike sang wat gepaard gaan met bewegings wat op militêre presiese geskied, misloop. Hierna is dit tyd vir aksie wanneer die atletiek om 08:30 begin.
Die afgelope twee weke was dit omtrent 'n bedrywigheid by die onderskeie skole. Op die oefenveld is daar geswoeg om atlete gereed te kry en in die agtergrond kon die gedreun gehoor word waar die res van die skool besig was om hul sang en passies vir die pawiljoen in te oefen.
Margaret Pansegouw van die Hoërskool Bellville, wat die byeenkoms die afgelope drie jaar suksesvol organiseer, is ook van mening dat hierdie byeenkoms net dalk 'n nuwe wenner gaan oplewer. Nie net op die baan nie, maar ook op die pawiljoen.
DFM (atletiek) en Stellenberg (pawiljoen) gaan albei probeer om hulle oorwinnings van die verlede te herhaal, maar wees verseker dat die Hoërskool Tygerberg wat vanjaar die gasheerskool is, en die Hoërskool Bellville, hulself dié keer deeglik gaan laat geld.
Met die room van atlete uit die WP, die Wes-Kaap en SA wat tydens die byeenkoms in aksie is, kan daar weer eens uigesien word na puik prestasies en met die talent betrokke, gaan heelwat rekords in die slag bly.
Met al die bouwerk wat binnekort rondom die stadion begin, hoop almal dat die tradisionele byeenkoms steeds van krag tot krag sal gaan en 'n ander "tydelike" heenkome gevind sal word.
'n Ander bron van kommer, wat dié groot gebeurtenis skade kan berokken, is dat atlete kort voor die pragtige byeenkoms skielik 'n ander heenkome vind. Miskien is dit tyd dat die onderskeie skole byeenkom om dié tendens aan te spreek.
Vir enige verdere navrae rakende die byeenkoms, kan die gasheerskool, die Hoërskool Tygerberg, gekontak word.
JIP gaan al die krete op video vaslê, sou hou dop vir die môre!