‘Lyfstraf maak ouers nie misdadigers’

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

Die idee dat ­ouers wat hul kinders 'n pak slae gee deur die regering tot misdadigers verklaar moet word, is belaglik en rampspoedig, sê die Apostoliese Geloofsending (AGS).

Dr. Isak Burger, president van dié kerk, het in 'n verklaring gesê hulle erken daar is onverantwoordelike ouers wie se metodes om kinders te dissiplineer op mishandeling neerkom.

Dit is egter onwaarskynlik dat sulke ouers deur so 'n stap afgeskrik sou word.
Verder bevat die Bybel talle voorskrifte oor die belang van billike en liefdevolle dissipline.

Burger het gesê daar is 'n reuse-verskil tussen ouerlike dissipline en kindermishandeling. Om ­ouers wat hul plig nakom deur kinders te dissiplineer tot misdadigers te verklaar, is verregaande.

Dr. Gustav Claasen, moderator van die NG Kerk se noordelike sinode, het gesê dié kerk het nie sinodebesluite oor die saak nie.

Hy dink egter 'n mens moet mooi kyk na wat straf of tug in die Bybel beteken het en of dit noodwendig neerkom op lyfstraf.

Dis maklik om Bybeltekste aan te haal, maar 'n mens kan nie sommer 'n "is gelyk aan"-teken plaas tussen destyds en vandag nie. Persoonlik is hy nie ten gunste van lyfstraf nie.

Ds. Cassie Aucamp, predikant van die Gereformeerde gemeentes Bergsig en Andeon, het gesê in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika is daar ook nie 'n sinodebesluit nie, maar die gangbare standpunt by hulle is dat 'n pak slae binne grense op sy tyd reg is.

Kommentaar op Facebook

Lizelle Kessell: "Dit moet terugkom skole toe. Flip, vandag se kinders is ombeskof (sic) en kort 'n paar klappe."

Ina Hoffmann Kotze:
"In die Bybel staan: Tug die een wat jy lief het. Hoe wil jy dissipline toepas? Met sielkunde? Dit is deur sogenaamde sielkunde dat ons mooi wêreld is waar hy is en dat daar nêrens meer respek is nie."

Petro Johansson:
"Vandat jy nie meer jou kind 'n pak mag gee nie, het alle respek in die niet verdwyn. Kyk na ons skole, die kinders het geen respek nie."

Christopher Joynt:
"Dit bring lang, indien nie ewigdurende nie, emosionele skade! Hierdie negatiewe vorm van gedrags korreksie (sic) lei tot geweld in die familie in die volwasse lewe!"

Elsabe Pepler: "Lyfstraf stuur 'n boodskap van vernedering, kleinering, van jy is nie goed genoeg nie."

Sien ook:
Meerderheid van ouers is pro-lyfstraf
Onnies slaan steeds skoolkinders

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar