Soos ek dié rubriek skryf, is dit nog in die laaste paar dae voor die sogenaamde oordeelsdag.
Ek verwys natuurlik na Saterdag 21 Mei 2011. 'n Amerikaanse evangeliegesinde groep, Family Radio, het beweer die wêreld sou Saterdag vernietig word.
Maar moenie stres nie. The end is not now.
Want volgens Family Radio het ons nog vyf maande op aarde oor voordat die finale klok lui en ons op 21 Oktober 2011 na die hiernamaals gaan.
Die slegte nuus is dat die aarde in dié vyf maande geteister gaan word deur orkane, tsoenami's, aardbewings, droogtes en dies meer.
Die WP sal waarskynlik ook iewers die Curriebeker wen, en hopelik sal Julius Malema 'n ander woord as "tendencies" kan leer. Ja-nee. Die wêreld sal pretty much nog dieselfde wees.
Maar gestel ek is verkeerd bewys en daar hét actually 'n orkaan die aardbol getref en daar is net vyf maande oor. Wat sal ons met daardie tyd doen?
Hmmm. . . Ek sal eerstens elke aand weglê aan 'n double steak and cheese gatsby van Golden Dish.
Dan sal ek met my vol mond vir die baas 'n golden klap wil gaan gee en bedank. Daar's geen punt daarin om net vyf maande lank te werk nie. Dan sal ek vir Jeremy, my een kollega, sê sy mond stink.
En dan, dán, sal ek vir Deane sê ek is eintlik heimlik verlief op hom, en het dit elke keer beplan dat ons "toevallig" saam in die hyserbeland.
Ek sal ook op 'n wêreldreis wil gaan en museums besoek.
En ek skiem ek sal seker dinge ook moet gaan uitpluis met die mense wat my leed aangedoen het (en aan wie ek moontlik dieselfde gedoen het). En natuurlik baie tyd saam met my gesin deurbring.
Hoe sou jy reageer as jy vir 'n feit weet die klok lui op 21 Oktober?
Sal jy vrede maak met jou vyande?
Sal jy rebelleer?
Sal jy jou besittings weggee?
Sal jy wil bungee jump en 'n tatoeëermerk kry?
En dan wonder ek: Sal Steve en Julius boesemvriende word? Sal daar 'n kuur vir vigs gevind word? Sal Ghaddafi teen daardie tyd al sy troon afgestaan het?
Die waarheid is egter dié: Ons weet nie of ons vyf dae of vyf maande of vyf jaar oorhet nie.
Niemand weet nie. Ons kan net bespiegel. Wat ons wél weet, is: Die léwe is kort. Lag dus nou terwyl jy nog tande het.